CrimeNews

Sewe aangekeer nadat trokbande voete kry

Sewe mans is op Dinsdag 12 Oktober in hegtenis geneem nadat hulle verbind is met ’n rooftog by die bekende Walt Landgoed-boerdery op die Springbokvlakte-omgewing.

Volgens sers. Frans Maponya, Bela-Bela-polisiewoordvoerder, het die verdagtes ’n veiligheidswag iewers tussen 21:00 en 01:00 op Maandag of Dinsdag (11-12 Oktober) oorval en met ’n byl gedreig.

Die vermeende rowers het egter nie geweet van die tweede veiligheidswag wat in die omgewing was en dadelik gaan hulp soek het toe hy sien wat gebeur nie. Hulle kon daarin slaag om 16 trokbande van voertuie op die plaas te verwyder voordat hulle op die vlug geslaan het, het Maponya gesê.

Danksy die flink optrede van die veiligheidswag is ’n taakmag binne minute saamgestel, wat polisielede van Bela-Bela, Modimolle, Pienaarsrivier, die provinsiale hoofwegpatrollie en die gemeenskapspolisiëringsforum (GPF), ingesluit het.

Maponya het gesê die taakspan het vinnig opgetree en twee verdagtes is kort ná die voorval in hegtenis geneem. Die ander verdagtes is die Dinsdagaand aangekeer nadat hulle met Toyota-bakkies teruggekeer het na die toneel om die bande op te laai.

Dié groep verdagtes is ná ’n jaagtog deur die polisie op die N1-snelweg aangekeer. Die drie Toyota bakkies wat glo gebruik is in die misdaad, is deur die polisie geskut.

Die verdagtes, Kenneth Makhubela (38), Lasy Rangwasha (26) Mzwandila Mfanamikile (34), Musa Mabaso (29), Doctor Masango (43), Phakamani Mdluli (33) en Mashianoka Rangwaga (41) het reeds in die Bela-Bela-hof verskyn op aanklagte van roof, asook die besit van gesteelde eiendom.

Sover vasgestel kon word woon hulle in Gauteng. Die saak is uitgestel na Donderdag 21 Oktober vir verdere ondersoek.

  • ’n Mosambiekse man is op Woensdag 13 Oktober tussen Radium en Bela-Bela in hegtenis geneem agter die stuur van ’n vermoedelik gesteelde voertuig.

    Volgens Maponya het die verdagte ’n Toyota Hilux in Gauteng gekaap en noordwaarts in die rigting van Limpopo gevlug.

    Die 39-jarige verdagte het in ’n padblokkade beland wat tot sy inhegtenisname gelei het.

    Die polisie het voorts gevind dat die man vals nommerplate op die bakkie geplaas het om die polisie te probeer flous, het Maponya gesê.

    Die verdagte het teen druktyd nog nie in die hof verskyn nie. Die polisie vermoed dat die verdagte onwettig in die land is. Die ondersoek duur voort.

Related Articles

Back to top button