Local newsNews

Hawe vir gestremdes open in Mookgophong

Gestremdes en mense wat spesiale hulp en aandag nodig het, lê vir Elize en Louis du Preez baie na aan die hart en daarom het hulle besluit om ’n veilige hawe met die naam “Heavenly Haven” vir gestremdes in Mookgophong te open.

“Ons het self ’n gestremde kind gehad en daarom gee ons baie om vir gestremdes,” het Elize aan Die Pos vertel toe die koerant daar gaan inloer het.

Die Du Preez-egpaar is pensioentrekkers van Pretoria en het die redelik vervalle huis in 5de Straat sowat tien jaar gelede gekoop en onlangs vir gestremdes ingerig.

“Ons sal ook dagsorg hê indien iemand wat tuis versorg word vir ’n dag nie toesig het nie,” het Elize gesê.

Louis het al die bou- en breekwerk self behartig en het die huis só verander dat dit vir fisiek gestremdes toeganklik is.

Volgens Elize is die registrasie vir ’n hawe vir gestremdes ’n tydsame proses en het dit lank geneem om al die “papierwerk” in orde te kry.

Heavenly Haven is as ’n nie-winsgewende maatskappy geregistreer en het ’n raad van direkteure wat dit bestuur. Cobus Loots dien as voorsitter.

Elize sê sy het baie navorsing gedoen oor die behoefte van gestremde mense en het ook in die dorp en omgewing ’n opname gedoen oor wat die behoefte van die gemeenskap is.

Alet Riekert, wat as verpleegkundige opleiding ontvang het, is aangestel as huismoeder en het sommer dadelik ingespring en vrieskaste vol heerlike kos voorberei.

Elize het verder ook groot planne om groentetuine aan te lê sodat die inwoners hulle daarmee kan besig hou. Daar is reeds ontspanningsplek vir speletjies en ’n klein biblioteek is ook vir die inwoners ingerig.

“Ons beplan ook om gereeld musiekoggende te hou waar die inwoners lekker kan saamsing,” het sy gesê.

Louis was ’n fasiliteitsbestuurder by die Suid-Afrikaanse Banknoot Maatskappy en is ’n opgeleide elektrisiën. Elize was jare lank ’n personeelbestuurder.

Die huis is tans ingerig vir 17 inwoners en hulle sien daarna uit om dagbesoekers ook daar te akkommodeer.

Related Articles

Back to top button