CrimeNews

Skelms slaan tydens beurtkrag in Modimolle toe

Die afgelope tyd se beurtkrag het vir baie inwoners ongerief en hoofbrekens besorg.

Talle huishoudings moes saans sukkel om kinders betyds gevoed, gebad en in die bed te kry terwyl Hoërskool leerders hul huiswerk by kerslig probeer afhandel het.

’n Bykomende tameletjie is dat misdaad skerp toegeneem het weens die algehele duisternis wat beurtkrag veroorsaak. Baie huise en sakepersele beskik nie oor bystandkragopwekkers nie en kon dus nie hul eiendomme tydens beurtkrag beskerm nie.

Inwoners van Modimolle was op Dinsdag 12 Oktober vir bykans 24-uur sonder elektrisiteit toe diewe koperkabels tydens beurtkrag (vanaf 19:00 tot 21:00) gesteel het.

Inwoners van Modimolle was ure lank sonder krag nadat booswigte tydens beurtkrag koperkabels by hierdie paal buite die dorp gesteel het.

Hoewel die plaaslike owerheid se tegniese span dieselfde aand nog die oorsaak opgespoor het, het dit bykans 24-uur geneem om te herstel.

Die kabels is in die omgewing van die Weesgerus-vakansieoord net buite die dorp gesteel.

Dele van Modimolle wat deur die kabeldiefstal geraak is, was die Koro Creek-gholflandgoed, Phagameng uitbreiding 10, asook die woongebied vanaf Limpopo- (Rivierstraat) tot by Bergstraat.

Die hele dorp het egter kragonderbrekings gehad op Donderdagoggend 14 Oktober toe die tegniese span die finale koppelings moes doen.

Volgens Marlene van Staden, burgemeester van die Modimolle-Mookgophong-munisipaliteit, is daar bewerings van interne sabotasie deur munisipale amptenare gemaak. Daar word beweer dat daar gesloer is om die gesteelde kabels te vervang en te herstel.

Sy het op ’n vergadering met die Waterberg-sakekamer op Donderdag 14 Oktober gesê die fout sou na raming slegs ses uur geneem het om te herstel en nie 24 uur soos wat dit die geval was nie.

AO James Findlay, polisiewoordvoerder in Modimolle, het bevestig dat die speurtak besig is met ’n ondersoek, maar nog nie enige verdagtes in hegtenis geneem het nie.

Enigiemand met inligting kan die polisiestasie skakel by tel (014) 718 1189.

Related Articles

Back to top button