Local newsNews

Magrietjies benodig jóú hulp

Die Magrietjies-kankerhulpgroep in Mookgophong, ’n vrywillige liefdadigheidsorganisasie wat kankerpasiënte van die dorp en omgewing versorg en ondersteun, het dringend hulp van die publiek nodig.

Die groep versorgers bedien slegs Mookgophong en bestaan uit vier afdelings: die verpleegkundiges wat om die beurt pasiënte tuis besoek en verpleegkundiges wat weekliks op ’n Donderdag die kliniek vir twee ure beman.

Daar is ook vroue wat nie noodwendig mediese kennis het nie, maar pasiënte en hul gesinne ondersteun deur vir pasiënte te lees of vir hulle gaan inkopies doen en wat in sommige gevalle help met die versorging van die pasiënt se kinders.

Die vierde groep is die vroue wat die kantoor beman. “Ons gebruik waar moontlik vyf vroue per week wat om die beurt van 09:00 tot 11:00 die kantoor beman.

Ons benodig tans mense in elke afdeling, veral verpleegkundiges,” het Esther du Plooy aan Die Pos gesê.

Om by die Magrietjies betrokke te wees is ’n vrywillige diens sonder vergoeding. Du Plooy het gesê dat hulle wel die jaarlikse registrasiegelde van die verpleegkundiges betaal. Indien daar meer verpleegkundiges is, sal dit die werklas ligter maak.

“Ons is ’n gesellige groep en ek doen ’n beroep op vrywilligers om ons asseblief te help,” het Du Plooy gevra.

Die groep het in 1994 ontstaan onder leiding van ’n verpleegsuster, Tonny Oerlemans.

Hulle het in April 2000 weggebreek onder die beskerming van die kankervereniging van Suid-Afrika (Kansa) en funksioneer nou onder die beskerming van die Naboom-welsynsorganisasie vir bejaardes (NWOB).

Die Magrietjies is heeltemal afhanklik van die gemeenskap en fondsinsamelings- projekte wat deur die gemeenskap en kerke ten bate van hulle gehou word.

Mense wat belangstel, kan die kantoor tussen 09:00 en 11:00 skakel by tel. (014) 743 2330 of besoek die Magrietjies-kantoor op ’n Donderdag tussen 09:00 en 11:00.

Related Articles

Back to top button