Local sportSport

Rhino’s bly onoorwonne!

Die Northam Rhino’s maak nou — ná ’n uiters suksesvolle naweek op die rugbyveld — gereed vir die halfeindstryd van die Carlton-liga.

Hulle het die Grizzlies op Saterdag 16 Oktober oortuigend geklop met ’n telling van 43-18. Met dié oorwinning het die tuisspan weer bewys dat hulle ’n gedugte span is en dat die span van die Universiteit Pretoria (Tuks) op Saterdag 23 Oktober op hul hoede moet wees wanneer die Rhino’s op hul tuisveld in die semifinaal speel.

Pierre van Jaarsveld, die span se afrigter, het aan Die Pos gesê hy verwag ’n taai wedstryd, maar hy is vol vertroue dat die Rhino’s se voorbereiding voldoende sal wees om hulle te help teen die gedugte span van Tuks.

Die Rhino-klub was die afgelope naweek baie suksesvol met al drie hul spanne wat hul wedstryde gewen en deurgedring het na die halfeindronde.

Die tweede span het ’n wegholoorwinning oor die Grizzlies behaal met ’n eindtelling van 93-0. Die derde span het op hul beurt ook met die Grizzlies afgereken en toe die eindfluitjie blaas, het die telling op 25-17 gestaan.

Van Jaarsveld wens die spelers geluk met hul uitstekende spel tydens die seisoen en hy nooi graag alle rugbygeesdriftiges uit om die komende naweek al drie spanne te ondersteun in hul onderskeie wedstryde.

“Ek wens elke span sterkte toe met die wedstryde wat voorlê,” het hy gesê. “Ons as afrigters en bestuur is baie trots op hulle en dit bly ’n voorreg om deel te wees van so ’n fantastiese klub. Ons beskou ons almal as deel van ’n groot familie en sal deur dik en dun bymekaar staan. Saterdag maak ons geskiedenis!”

Die wedstryd van die derde span teen Harlequins skop om 14:30 af. Die eerstespan se wedstryd begin om 16:00.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button