Local newsNews

Vreedsame optog teen korrupsie

Lede van die Congress of South African Trade Unions (Cosatu) het op Donderdag 7 Oktober ’n landswye protesveldtog geloods om die regering te dwing om korrupsie in die Suid-Afrikaanse sakesektor stop te sit.

Bheki Ntshalintshali, Cosatu se sekretaris-generaal, het werkers genooi om saam met dié unie hul reg uit te oefen om onregverdigheid in die werkplek te betwis.

Hy het voorts verduidelik dat dit vir Cosatu en sy lede belangrik is om lig te werp op die landwye toename in korrupsie, uitbuiting van werkers en geslagsdiskriminasie. Hy het afgesluit deur te verduidelik dat hierdie stakings nie ’n poging is om die stelsel omver te werp nie, maar eerder gesien moet word as ’n noodsaaklike mobiliseringsaksie om druk teen die regering en regeringsinstansies uit te oefen om korrupsie in die kiem te smoor.

Talle Cosatu-lede van die Thabazimbi-omgewing het op Donderdag, vergesel deur lede van die polisie, by Thaba Mall byeengekom en ’n optog na die munisipale kantore onderneem om ’n memorandum aan die munisipale bestuur te oorhandig. Hoewel die plaaslike Cosatu-betogings vreedsaam verloop het, was die polisie en lede van verskeie plaaslike gemeenskapspolisiëringsforums (GPF) gereed om voorvalle te keer.

Roelf Crause, verteenwoordiger van die GPF in Spitskop net buite Thabazimbi, het aan Die Pos gesê die betoging het sonder enige probleme plaasgevind, ondanks gerugte van gewelddadige optrede op verskeie sosiale mediaplatforms.

“Daar is geen insidente voor of tydens die protesoptog by ons aangemeld nie,” het Crause gesê. “Alle GPF-takke in die omgewing werk nou saam met die polisie en daar is voortdurend goeie kommunikasie.”

Crause het die publiek gemaan om, so ver moontlik, situasies soos hierdie te vermy en onder geen omstandighede fopnuus te versprei nie.

“Die GPF se hoofdoel is om die spreekwoordelike oë en ore vir die polisie te wees,” het hy gesê.

“Ons versoek altyd die publiek om nie vasgevang te word in enige optog nie, aangesien openbare veiligheid altyd die eerste prioriteit moet wees. Baie vals inligting word tydens sulke optogte op sosiale media versprei,” het hy gesê.

Die GPF herinner die gemeenskap daaraan dat alle gemeenskapsveiligheidskwessies van kardinale belang is en daarom moet gemeenskapslede altyd paraat wees en die regte owerhede kontak wanneer hul hulself in noodsituasies bevind.

  • In ’n verslag wat vooraf aan Cosatu-lede gestuur is, het die unie gesê die landwye betogings is daarop gemik om die regering en die privaat sektor te dwing om die ekonomiese gemors waarin die land hom bevind, op te los en werkers se belange te bevorder.

    Yoliswa Makhasi, direkteur-generaal van die departement van staatsdiens en administrasie, het in reaksie gesê alle regeringsdienste sal onverpoosd voortgaan ondanks die beplande nasionale stakings.

    Hy het verder gemaan dat werknemers wat aan dié betogings deelneem, die gevaar loop om ’n dag se loon te verloor aangesien die grondwet voorsiening maak vir ’n geen-werk-geen-betalingsbeleid vir alle staatsinstansies en privaat ondernemings.

Related Articles

Back to top button