Local newsNews

Konsternasie met slang by Kokanje

Daar was groot konsternasie by die Kokanje-aftreeoord net buite Modimolle toe een van die inwoners, Orpa Terblanche (88), op Vrydag 8 Oktober ’n boomslang op haar huis se stoep gewaar het.

Theunis Victor, bekende slangvanger en -kenner in Modimolle, het aan Die Pos vertel ’n benoude Terblanche het hom Vrydagmiddag omstreeks 17:40 gebel om die “groot groen slang” te kom verwyder.

Hy het hom daarheen gehaas, want hoewel boomslange baie skugter is en mense vermy, is dit steeds uiters giftig.

Met sy aankoms het hy die boomslang van sowat 1,5 m lank gesien waar dit verstrengel geraak het in ’n stuk net wat in die bedding reg langs die stoep gespan is. Inwoners maak gebruik van sulke netafskortings om te keer dat die wildsbokkies wat vryelik rondloop in die oord hul blombeddings kaal vreet.

Victor vertel dat hy die slang met ’n spesiale tang agter die nek vasgehou het sodat dit hom nie kon byt nie. Met die ander hand het hy begin om die net waarin die slang verstrengel was, los te sny om sodoende die slang te bevry.

Omdat boomslange baie menssku is, het die slang onophoudelik gewriemel, wat die lossny proses bemoeilik het. Dit is toe dat Terblanche aangebied het om te help en die slang uiters versigtig losgesny het terwyl Victor die kop veilig vasgehou het.

Nadat hulle die slang bevry het, het Victor dit na sy huis geneem om die skaafplekke wat deur die net veroorsaak is, te behandel voordat die slang op ’n later stadium in die natuur vrygelaat kan word.

Danksy boomslange se vredeliewende temperament is daar lank geglo dat dit ’n “onskadelike” slang is en ernstige byte is uiters skaars.

Die boomslang se giftande sit heel agter in die bek en dien ’n groot hoeveelheid hemotoksiese gif toe. Hierdie gif veroorsaak uitgebreide inwendige bloeding van die slymvliese in die menslike liggaam. Sonder behandeling vorm talryke bloedklonte onder die vel en kan die niere onherstelbaar beskadig word wat die slagoffer se dood binne drie tot vyf dae kan veroorsaak.

Boomslange is bedags aktief, meestal in bome maar ook op die grond, waar hulle jag maak op klein voëltjies, akkedisse en klein knaagdiere.

Kleure wissel van ’n gevlekte grys tot bruin, byna swart, swart en geel tot groen. Die mannetjies is gewoonlik meer helderkleurig as die wyfies.

Met die kwik wat styg in die Bosveld is slange baie meer aktief bedags.

Victor se raad aan inwoners is om te sorg dat die omgewing om huise en buitegeboue skoon gehou word en alle tuinvullis, stapels brandhout en bourommel verwyder is.

Wanneer daar op ’n slang afgekom word, moet die persoon doodstil staan en dan vinnig agteruit beweeg. Hou die slang dop van ’n veilige afstand van ongeveer 5 m totdat ’n opgeleide slangvanger opdaag om dit veilig te verwyder.

Bel gerus vir Theunis Victor by tel. 082 823 6910 of vir LD Pienaar by tel. 072 475 6414.

Let daarop dat ’n minimale uitroepkoste gevra word wat aangewend word vir brandstof-uitgawes.

Related Articles

Back to top button