Local newsNews

Groot skrik nadat woonstel aan die brand slaan

’n Gesin van Bela-Bela het verlede naweek ’n noue ontkoming gehad nadat ’n brand in die vroeë oggendure in hul huis ontstaan het.

Talent Zhou, wat in die woonstel woon, het aan Die Pos gesê die brand het op Saterdagoggend 2 Oktober ongeveer 04:00 in hul kombuis uitgebreek.

Die gesin woon in Bela-Bela se sentrale sakesektor in een van die eerstevloer-woonstelle in die hoofstraat in die omgewing van Van Heerden-apteek. Zhou is die eienaar van die Talma Spa in Lunaweg.

“Ek, my vrou en tweejarige kind is wakker geruk deur die warm gloed in die slaapkamer. Ek het dadelik hulp van die bure ontbied wat my gehelp het om die vlamme met brandblussers onder beheer te bring,” het hy gesê.

“Die vlamme was reeds onder beheer toe die brandweerdienste opgedaag het. Ons het genadiglik nie brandwonde of beserings opgedoen nie. Ons moes egter na die Warmbad-hospitaal gaan om behandel te word vir rookinaseming.”

Volgens hom was hulle teen ongeveer 06:00 by die ongevalle afdeling van die plaaslike hospitaal. Mediese personeel aan diens het volgens Zhou eers om 08:00 begin om behandeling toe te pas.

“Daar is nog geen aanduiding wanneer die skade herstel sal word nie. Ons het tans geen ander heenkome nie, want die woonstel is onleefbaar,” het Zhou gesê.

“Ons het twee yskaste, ’n mikrogolfoond, ketel, strykyster, eetgerei en al ons kosvoorraad in die brand verloor. Wat dit erger maak, is dat ek tydens die brand van my selfoon beroof is. Iemand wat kom help het om die brand te blus, het hulself ook gehelp aan my selfoon.”

Zhou sê hulle het geen idee hoe die brand ontstaan het nie. Sy gesin se behoefte was teen druktyd vir hom ’n saak van dringendheid.

Indien mense in die gemeenskap die gesin wil bystaan, kan hulle vir Zhou bel by tel. 064 125 1851.

Related Articles

Back to top button