Local newsNews

Fritz droom oor perde

Fritz Brand (24) se liefde vir perde kom van jongs af.

Hoewel hy bykans heeltemal blind is met slegs 10% sig in sy linker- en 5% sig in sy regteroog, keer dit hom nie om sy drome na te streef nie.

Brand het 17 jaar gelede saam met sy ma, Debbie Herbst, na Modimolle verhuis.

As gr. 1-leerder in Laerskool Eenheid het Brand destyds al gesukkel met verswakte sig. Ná talle besoeke aan verskillende oogartse om die probleem op te spoor, is hy uiteindelik deur ’n oftalmoloog op 10-jarige ouderdom met Stargardt-oogsiekte gediagnoseer.

Hierdie aangebore genetiese oogsiekte is ongeneeslik en raak bykans 1 uit elke 10 000 mense.

Die vroegste simptome is die onvermoë om op fyn detail te fokus (naby of ver), blindekolle en wasige sig. Dit word veral opmerklik wanneer jong kinders sukkel om te lees en skryf. In die meeste gevalle verswak sig stelselmatig totdat hulle later bykans heeltemal blind is. Daar is geen geslaagde behandeling hiervoor nie en die sig kan nie met ’n bril of lense herstel nie.

Die Prinshofskool vir blindes en gedeeltelike blindes in Pretoria was die beste keuse vir onderrig, maar sy ma wou hom nie op so ’n jong ouderdom wegstuur na ’n koshuis toe nie.

Vir die volgende paar jaar was hy by die Sonstraalskool vir Buitengewone Onderrig in Modimolle. Dit is daar waar hy vir die eerste keer met perde in aanraking gekom het tydens die skool se weeklikse perdrylesse.

Hy is later na ’n tuisskoolsentrum waar hy ’n nasionale diploma aangepak het om homself as dieselwerktuigkundige te bekwaam. Hy het reeds die N2-kursus voltooi en is halfpad met sy N3-kwalifikasie.

Hy het deurgaans aangehou met perdrylesse en het vier jaar gelede sy eerste perd, Duncan, gekoop, het sy ma in ’n onderhoud met Die Pos vertel.

Brand het nou al vier perde van sy eie wat op vriende se plaas net buite Modimolle gehuisves word. Hy versorg self die perde en dek die koste vanuit sy ongeskiktheidstoelaag.

Herbst het aan Die Pos gesê: “Ons is baie trots op Fritz dat hy hierdie groot verantwoordelikheid met soveel ywer aanpak. Ons ondersteun hom heelhartig en is oneindig dankbaar vir al die geleenthede wat die Here vir hom gee.”

Sy liefde vir perde het hom genoop om ’n ander beroepsrigting in te slaan.

Hy het in September vanjaar ingeskryf vir ’n intensiewe perdekursus wat deur Jan Bouwman in Polokwane aangebied word. Hierdie kursus strek oor drie maande en behandel elke aspek oor die versorging, voeding en mediese behandeling van perde, asook ruiterkuns.

Die liefdevolle hantering van perde, sonder enige hulpmiddels of verbale instruksies, is die belangrikste deel van hierdie kursus. Dit verg baie dissipline en toewyding om hierdie kursus suksesvol te voltooi, het hy aan Die Pos vertel.

Brand het ’n natuurlike aanslag met perde en beoog om ’n perdryskool in Modimolle te begin wat ook terapiesessies sal bied vir mense met spesiale behoeftes of kinders wat trauma beleef het.

Related Articles

Back to top button