Local newsNews

Gemeenskap groet Hannetjie Toet

Hannetjie Toet (82), ’n bekende in die Waterberg-omgewing, is op Dinsdag 5 Oktober aan natuurlike oorsake oorlede.

Toet is in 1939 in die destydse Nylstroom gebore en was die tweede oudste van sewe kinders.

Nadat sy haar skoolloopbaan voltooi het, het sy by ’n plaaslike prokureursfirma begin werk.

Volgens haar familie is sy en haar oorlede man, Dick, in 1962 getroud. Dick is in 2002 oorlede.

Die egpaar het twee seuns, Karel en Dick, gehad. Karel is ’n veearts in Modimolle en Dick jnr. is ’n paar jaar gelede oorlede.

Die Toet-gesin het in die laat 1990’s op hul plaas by Drooggesloot, net buite Bela-Bela, geboer en hulle was ook bekend vir die slaghuis wat hulle in die dorp bedryf het.

Die gemeenskap sal Hannetjie onthou vir haar betrokkenheid in die Mabula-gemeenskap. Sy was onder meer voorsitter van die VLU se Mabula-tak en was jare lank betrokke by die plaaslike Geloftefees-reëlings.

Sy het die laaste paar jaar in Panorama Park in die dorp gewoon en was ’n aktiewe gemeentelid van die NG Warmbad Moedergemeente.

Toet se roudiens het op Donderdag 14 Oktober vanuit die Moedergemeente plaasgevind.

Sy laat haar seun Karel en ses kleinkinders na: Misha Badenhorst, Jenny-Lee Toet, Bronwen Sterrenberg, Kyla Briel, Tiaan Toet en Kalista Toet.

Sy laat ook twee agterkleinkinders, Mioné Badenhorst en HJ Sterrenberg, agter. Haar derde agterkleinkind, Milay Briel, word eersdaags gebore.

Related Articles

Back to top button