Local newsNews

Bela-Bela-boer dankbaar vir hulp ná brandskade

’n Boer van die Syferfontein-omgewing buite Bela-Bela het op Donderdag 30 September groot skade gely weens ’n onverklaarbare brand op sy plaas.

Frik Kloppers, wat al sewe jaar op die plaas woon en werk, het aan Die Pos gesê hy en sy werkers het op dié dag voer gebaal. Hulle het teen laatmiddag na sy woonhuis teruggekeer.

“Ek en my gesin was na familie toe vir ’n familie-ete. Net voordat pres. Cyril Ramaphosa om 20:00 die nasie oor televisie oor die Covid-19-regulasies sou toespreek, het ek ’n oproep ontvang dat daar ’n brand op my grond is.”

Met sy aankoms het hy talle boere van die omgewing, asook die brandbestrydingspan van die Sondela- natuurreservaat, op sy perseel gevind waar hulle die brand bestry.

Die brand het vermoedelik teen ongeveer 19:30 uitgebreek, maar is gelukkig onder beheer gebring voordat alles in die slag gebly het.

“Ek het ’n ou bakkie, duisende rande se bale voer en die inhoud van ’n pakkamer in die brand verloor. Daar was ook skade aan my hamermeule. Ek is net uiters dankbaar teenoor Sondela en die omliggende boere wat kom help het. Hulle is staatmakers,” het hy gesê.

“Ek vermoed dat ’n stuk draad wat tydens die baalproses gebruik word, dalk warm geword en die bale aan die brand gesteek het, maar die oorsaak van die brand bly ’n raaisel.”

Kloppers het gesê dit was ironies dat daar die dag ná die brand sowat 25 mm reën in die gebied uitgesak het.

“Die Genade was groot en ek bly ontsettend dankbaar vir almal se hulp.”

Related Articles

Back to top button