LettersOpinion

Brief: Suid-Afrika se ekonomie kan geen inperkings nog langer bekostig

Die jongste syfers van Statistieke Suid-Afrika (Augustus 2021) toon die werkloosheidskoers het nou tot 34,4% toegeneem (teenoor 32,6% die vorige kwartaal).

Dr. Pieter Groenewald, leier van Vryheidsfront-Plus (VF-Plus) skryf:

Die beste bedoelings met die Covid-19-inperkingsmaatreëls kan nie meer opgeweeg word teen die rampspoedige en tragiese gevolge van ’n gebroke ekonomie en werkloosheid wat groei teen ’n skrikwekkende tempo van bykans 600 000 kwartaalliks nie.

Pres. Cyril Ramaphosa moes teen hierdie agtergrond die land lank reeds vrygestel het van enige inperking wat enigsins ’n impak op die ekonomie kon hê.

Om nou na Vlak 1 te beweeg met ’n derde vlaag Covid-19 infeksies wat skerp afneem, dien geen doel nie. Kundiges is selfs van mening dat die gevolge van natuurlike immuniteit, saam met die aantal inentings, tot dusver reeds ’n volgende vlaag infeksies kan voorkom.

Die siekte het tot nou toe ook nie die rampspoedige gevolge in Suid-Afrika gehad soos wat aanvanklik voorspel is nie. Hierteenoor is die land se ekonomie, met werkloosheid wat volgens navorsers die hoogste ter wêreld is, op ’n kantelpunt en die skade onmeetbaar wanneer algehele armoede, hongersnood en ’n gebrek aan alle aanvaarde lewensmiddele in ag geneem word.

Meer as 9,1 miljoen jong mense tussen die ouderdomme van 15 tot 34 jaar is werkloos, gaan nie skool nie en is nie besig met verdere opleiding of studie nie. Dit is bykans die helfte van die 20 miljoen Suid-Afrikaners van dié ouderdomsgroep (Centre for Development and Enterprise).

Die jongste syfers van Statistieke Suid-Afrika (Augustus 2021) toon die werkloosheidskoers het nou tot 34,4% toegeneem (teenoor 32,6% die vorige kwartaal). Dit verteenwoordig sowat 600 000 mense.

Anders as in ander lande met sterker ekonomieë, is hierdie groeiende miljoene werkloses die ware tragedie van Covid-19 in Suid-Afrika.

Veral die miljoene jeugdiges sonder werk of enige hoop op ’n toekoms is ’n vulkaan wat reeds besig is om uit te bars, soos duidelik gesien kan word in die land se skerp stygende misdaadsyfers.

Een manier om dit om te keer, is om dadelik enige vorm van inperking op die ekonomie te laat vaar. Dit is op die korttermyn. Daarna moet die land se kiesers saam van die ANC ontslae raak sodat die ekonomie weer opgebou kan word.

Gebeur dit nie, kan daar ’n vulkaniese uitbarsting van geweld in die land plaasvind, gevoed deur hongersnood en armoede, wat Julie se onluste en anargie heeltemal sal oorskadu.

Related Articles

Back to top button