Local newsNews

Nog ’n geliefde inwoner sterf ná gru-ongeluk naby aftree-landgoed

Die Oog Aftree-landgoed buite Mookgophong se inwoners en personeel is baie hartseer nadat nóg een van hul geliefde inwoners, Elsabé van Wyk, wat op Donderdag 9 September in ’n motorongeluk was, in die hospitaal oorlede is.

Van Wyk en Rita Koekemoer was op pad terug nadat hulle in die dorp inkopies gedoen het toe hulle in ’n botsing met ’n weermagvoertuig betrokke was.

Die ongeluk het op die pad na die Olifant-standbeeld, naby die Rooiberg-myn, gebeur. Hulle was ongeveer 8 km van hul bestemming by Die Oog af.

Koekemoer het dieselfde middag gesterf aan die ernstige beserings wat sy in die ongeluk opgedoen het. Die bestuurder van die weermagvoertuig is op slag dood in die botsing.

Van Wyk moes deur noodwerkers losgesny word uit die motor. Sy is per ambulans na die Phodi Clinic in Bela-Bela geneem en later oorgeplaas na die Medi Clinic in Pretoria waar sy op Saterdag 18 September oorlede is.

Van Wyk het die motor bestuur en het inwendige beserings opgedoen en moes ook ’n noodoperasie vir ’n gebreekte arm ondergaan.

Volgens ’n familielid het sy ook ’n infeksie opgedoen wat klaarblyklik haar hart en longe aangetas het.

Sy het op ’n plaas in KwaZulu-Natal grootgeword waar sy nog met ’n perdekarretjie skool toe gery het. Sy het aan Hoërskool Greytown gematrikuleer en later ’n gastehuis in Hartebeespoort bedryf. Sy laat twee seuns en drie kleinkinders agter.

Haar dogter is onlangs aan Covid-19-verwante komplikasies oorlede.

Volgens haar seun, Neels van Wyk, was haar wens dat daar geen begrafnisdiens vir haar gehou moet word nie, en dat haar as, soos haar man s’n, in die Kruger-wildtuin gestrooi moet word.

Sy het die afgelope vyf maande by Die Oog buite Mookgophong gewoon.

Van Wyk en Koekemoer was jarelange boesemvriende.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button