NewsSchools

Leerders sweef virtueel

Die virtuele planetarium het Laerskool Eugène N. Marais in Mookgophong op Maandag 20 September besoek om vir die leerders ’n onvergeetlike ervaring van die ruimte en planete te laat beleef.

Dié maatskappy wat skole besoek vir die aanbieding het September opsy gesit om skole in Limpopo te besoek. Die skool moes ’n klein fooi per leerder betaal om die ervaring mee te maak.

Die Covid-19-inperkings, wat sedert Maart 2020 in werking is, maak opvoedkundige uitstappies baie moeilik en juis daarom het een van die onderwysers by dié skool, Estie Müller, die saak ondersoek en die blink plan gekry om die reisende virtuele planetarium na die skool te nooi.

Volgens haar was die kinders reeds vroeg die oggend baie opgewonde om die ruimte in sy volle glorie en in 360˚ te kon ervaar.

“Dit het gevoel asof jy tussen die planete rondsweef,” het een leerder gesê.

Al die leerders van gr. R tot gr.7 het gedeel in die prettige manier om hul kennis te verbreed.

Elke leerder is voorsien van ’n bril wat driedimensioneel is en hulle werklik laat voel asof hulle in die ruimte is.

Die personeel het ook gretig deelgeneem en Marina Gravett, skoolhoof, het gesê hierdie was ook sommer ’n goeie inleiding vir die tema in die natuurwetenskap-leerplan wat aanstaande kwartaal behandel word.

“Die Boompies maak leer lekker deur gebruik te maak van tegnologie,” het Gravett gesê.

Related Articles

Back to top button