AdvertorialNews

Só klop slim sakelui die Covid-19-gogga

Om ’n sakeonderneming te bestuur, is geen maklike taak nie, en die afgelope jaar was seker een van die mees uitdagende jare vir sake-eienaars landwyd.

Ook hier in Thabazimbi het verskeie ondernemings swaar getrek ná die uitbreek van die Covid-19-pandemie.

Maar wat laat ’n sakeonderneming staande bly ten spyte van hierdie uitdagings? Vir Lynette Kemp, eienaar van Memory Lane in Thabazimbi, is die antwoord eenvoudig: “genade.”

Toe Kemp dié gewilde kuns- en snuisterywinkel in September 2010 oorgeneem het by die voormalige eienaars, het sy geweet dit gaan nie noodwendig ’n miljoenrandmaatskappy word nie, maar ná 11 jaar in die bedryf is Memory Lane vandag steeds ’n veilige hawe vir die dorp se kunsgeesdriftiges.

“Toe ek en my man, Johan, uit Pretoria na Dwaalboom verhuis het, het ek gereeld by die winkel gaan inloer,” vertel Kemp. “Op daardie stadium het ek reeds ’n kleinsakeonderneming besit en Memory Lane was vir my meer ’n toevlug as enigiets anders.”

Mense is dikwels geneig om te dink dat Thabazimbi nie nut het vir winkels soos dié nie, maar as daar een ding is wat Kemp deur die jare bewys het, is dit dat die dorp oorloop van mense met kreatiewe talente.

“Elke mens is ’n kunstenaar uit eie reg, of jy nou voertuie diens, verf of klere maak. Dit is wat ons winkel so spesiaal maak — ons verskaf ’n tuiste vir dié mense.”

Sedert hul ontstaan het die onderneming al ’n paar keer van perseel verander en die afgelope agt jaar is die bekende rooi huis in 13de Laan baie mense se geliefkoosde halte vir hul doen-dit-self-projekte en om kunsbenodigdhede aan te vul.

“Ons winkeltjie het deur die jare ’n plek geword waar baie mense in die dorp kom kuier. Sommiges koop nie noodwendig iets nie, maar kom hierheen omdat dit vir hulle ’n tweede huis geword het,” het Kemp vertel.

“Ons lok steeds gereelde kliënte uit Pretoria en ander verafgeleë dorpe, omdat hier ’n plattelandse bekoring is; ’n menslikheid ver van die gejaagdheid van die stede af.”

Die Pos het vroeër vanjaar by Jacques Blaauw, bekende sakeman op die dorp en voorsitter van die Thabazimbi-sakekamer, ingeloer vir ’n terugkyk op die jaar wat verby is en volgens hom is daar in elke uitdaging ’n nuwe geleentheid.

“Miskien is die uitdagings waarvoor ons vandag te staan kom, die perfekte geleentheid om hande te vat met die mense om jou en saam-saam hierdie uitdagings aan te pak,” het Blaauw verduidelik.

Dit is met dié gesindheid dat Kemp dit al vir die afgelope 11 jaar regkry om haar sakeonderneming se deure oop te hou met ’n baie klein nismark as kliënte.

“Memory Lane is nie net ’n winkel nie. Ons ontwikkel ’n hegte vriendskap met ons kliënte,” het Kemp vertel.

Haar sleutel tot sukses is genade en samewerking. Sy wil graag mense in en om Thabazimbi aanmoedig om nou, meer as ooit tevore, hul plaaslike sakeondernemings te ondersteun.

“Met die uitbreek van die Covid-19-pandemie het ek net weer besef God se genade is baie groot. Selfs toe ek nie voltyds kon sake doen nie, was daar altyd ’n lojale kliënt wat navraag gedoen het, goed bestel het en ons steeds ondersteun het en ek dink dít is al hoe ons deur hierdie moeilike tye kon kom — deur mekaar te ondersteun.”

Related Articles

Back to top button