CrimeNews

Plaasvoorman (19) aangeval en beroof

Die inwoners van die Sussenvale-omgewing tussen Bela-Bela en Modimolle is geskok oor die aanval wat laataand op Saterdag 18 September plaasgevind het toe vier gewapende mans ’n plaasvoorman aangeval het.

Die voorman en eienaar van die plaas wil om veiligheidsredes anoniem bly.

Die 19-jarige man, wat die naweek alleen op die plaas was aangesien die eienaar vir die naweek uithuisig was, het aan die Modimolle-polisie verduidelik dat hy omstreeks 22:43 geluide by die skuifdeur in die woonkamer gehoor het waarna vier gewapende mans by die deur ingebars het.

Slegs een van die vier inbrekers se gesig was bedek. Die booswigte het die man oorrompel en erg aangerand waarna hulle die huis geplunder het.

Een van die rowers het tydens die voorval ’n pistool teen die man se kop gedruk waarna hulle hom dwarsdeur ’n venster gestamp het. Die glas het diep snye op sy voorarms gelaat wat erg gebloei het.

Volgens Brig. Motlafela Mojapelo, polisiewoordvoerder in Limpopo, is die man se selfoon en beursie, televisies, ’n oond, kragopwekker en .22-geweer gesteel.

Die buit is in die man se silwerkleurige Volkswagen Polo gelaai waarna die inbrekers in die vroeë oggendure van Sondag 19 September weggejaag het.

Die man het hom kaalvoet na een van die bure gehaas om die polisie te ontbied.

’n Ambulans is ontbied om hom na die F.H. Odendaal-hospitaal te neem vir behandeling. Hy is later oorgeplaas na ’n privaat hospitaal in die Vrystaat sodat sy ouers en familie hom kan bystaan.

Volgens die familie ly hy aan erge skok ná die traumatiese ondervinding en ontvang hy tans ook intensiewe berading.

Volgens Mojapelo duur die soektog na die vier verdagtes voort.

Lede van die publiek wat oor enige inligting beskik, kan die polisie se stopmisdaadnommer 08600 10111 skakel.

Related Articles

Back to top button