CrimeNews

Moordverdagte verskyn in hof

Die Bela-Bela-polisie het in Augustus ’n deurbraak gemaak in die ondersoek na die moord op ’n boer en plaaswerker van die Radium-omgewing buite Bela-Bela.

Simon Malebane en Daniel Ngoagamobe is in Augustus 2019 op Malebane se plaas in die Klippan-gebied dood aangetref. Malebane was ’n naweekboer.

Die polisie het destyds gesê Malebane was vasgebind en is erg aangerand voordat hy op die toneel aan sy wonde beswyk het. Ngoagamobe is dood met ’n skietwond aangetref.

Die rowers het na bewering R150 000 kontant, die oorledenes se selfone, asook vuurwapens gebuit.

Die polisie het in Julie 2020 ’n verdagte, Lelimo Mafoka, in Diepsloot, Gauteng, met die moord verbind en aangekeer.

Mafoka is van Lesotho afkomstig en is ook daarvan aangekla dat hy onwettig in die land is. Die saak teen hom is egter later teruggetrek weens ’n gebrek aan bewyse dat hy by die moord betrokke was.

Ondersoekwerk het die polisie in die rigting van Brits gelei waar nog ’n verdagte, Lazarus Mohapi, in Augustus vanjaar aangekeer is.

Mohapi is volgens die polisie ook van Lesotho afkomstig.

Mafoka verskyn weer op Donderdag 7 Oktober in die hof op ’n aanklag dat hy ’n onwettige immigrant is.

Mohapi sal op aanklag van moord verskyn. Albei mans is steeds in aanhouding.

Related Articles

Back to top button