LettersOpinion

Brief: Kies reg voordat jy besluit waar om jou kruisie te trek

Daar word net mooi niks bereik deur regdenkende mense se stemme tussen flenterpartye te verdeel nie. Al wat gebeur is dat die ANC meer mag en raadslede kry.

Pieter Raath, Bela-Bela, skryf:

Die munisipale verkiesing is op hande en ons sit ongelukkig — ná bykans 30 jaar van vryheid — nog steeds met die oorgrote meerderheid kiesers wat nie die vaagste begrip van demokrasie en die mag van ’n kruisie op ’n stembrief het nie.

Juis daarom stem hulle steeds vir die korrupte en onbekwame ANC, net om die volgende dag in die strate te betoog (toi-toi) teen swak dienslewering.

Veral die kleiner opposisiepartye verkondig daarom die idee van koalisie-politiek sodat hulle darem ook ’n stukkie van die koek kan kry.

Die geskiedenis in onder meer Tshwane, Johannesburg, Gqeberha (Port Elizabeth) en Modimolle/ Mookgophong het ongelukkig bewys dat dit nie ’n werkbare oplossing is nie en dat die konflik van belange die munisipaliteite leierloos laat ronddobber soos ’n skip sonder ’n stuur.

Daar word net mooi niks bereik deur regdenkende mense se stemme tussen flenterpartye te verdeel nie. Al wat gebeur is dat die ANC meer mag en raadslede kry.

Gesonde verstand sê tog vir ’n mens as daar 100 kiesers in ’n wyk is en 60% van hulle wil van die ANC ontslae raak en daar is een opposisieparty, dan kan hy 60% van die stemme op hom verenig en die wyk wen.

As daar egter twee opposisiepartye is, is die kans baie goed dat die ANC 40 van die stemme kry en die twee opposisiepartye elk 30, wat beteken dat die ANC steeds die wyk met sy 40 stemme wen.

Die antwoord lê duidelik daarin dat regdenkende kiesers die opposisieparty identifiseer wat sy basiese verwagtinge en waardestelsel ondersteun, die beste kans staan om die ANC uit die kussings te lig en al die opposisiestemme op hom verenig.

Related Articles

Back to top button