LettersOpinion

Brief: Sonskyndorp se mense is tops!

Daar is altyd in Bela-Bela iemand wat op kort kennisgewing bereid is om van ’n mens se struikelblokke uit die weg te ruim.

Jeanetta Botes, Bela-Bela, skryf:

Die meeste briewe gaan altyd oor probleme en klagtes, maar ek wil ek net vir my Sonskyndorp en ’n paar instansies ’n pluimpie gee.

Ek is ’n alleenloper en woon al 21 jaar in die Sonskyndorp. Dinsdae is my kuierdag in die dorp en ek kan enigeen aanbeveel om by Spar inkopies te doen.

Mense wat hul vleis wil laat rook of tongvleis minder gepekel wil hê, kan net vir Brian vra. Hy sorg dat jou voorkeure en versoeke presies reg is. As jy iets nie op die rakke kan vind nie, vra net vir Santjie — die mees behulpsame mens wat jy kan kry.

Verder gee ek op ’n dag my skootrekenaar in by Comtec Computers vir herstelwerk. Daar was ’n enorme misverstand, maar Alex, wat my gehelp het en deurgaans geduldig was, het gou die probleem uit die weg geruim.

My stofsuier wat onklaar geraak het was ook nie ’n probleem vir die mense van PEG nie. Hulle het die betrokke onderdeel gou opgespoor en selfs by my huis kom aflaai. Dankie, Francois, vir voortreflike diens. Ek het ’n kans gewaag en die jongman Duncan gevra om my te help met my selfoon en siedaar — nog ’n probleem vriendelik binne minute opgelos.

Tydens my bestuurslisensie se hernuwing het die stelsel my vingerafdrukke afgekeur. Sommer gou het ’n polisiebeampte my te hulp gesnel en is ’n nuwe stel gewaarmerkte vingerafdrukke by die lisensiekantoor ingehandig.

Met die noodlot wat my bloots ry, het ek ’n gebarste waterpyp op my warmwatertoestel gekry. Gou het Eric Maidment, ’n gekwalifiseerde loodgieter, vir my die pyp vervang en selfs die badkamer wat onder water was opgeruim.

En dit, liewe leser, is ’n kykie in die lewe van ’n alleenlopervrou wat nie tegnies aangelê is nie.

Die goeie nuus is dat daar altyd in Bela-Bela iemand is wat op kort kennisgewing bereid is om van ’n mens se struikelblokke uit die weg te ruim.

Ons Sonskyndorp se mense bly die beste!

Related Articles

Back to top button