LettersOpinion

Brief: Dankbaar vir ons staatshospitale

Dit is eers wanneer ’n mens ’n geliefde het, of self in die hospitaal versorg moet word, dat jy bewus word van die personeel se opofferings.

Elsie Pienaar, Lephalale, skryf:

Ek weet ons almal is moeg vir hierdie Covid-19-situasie, maar juis daarom wil ek graag my positiewe verhaal met julle deel.

Ons woon in Lephalale en op Maandag 19 Julie het ek besef my man, Gawie Pienaar, se toestand was besig om te verswak weens die Covid-19-virus en hy het dringend mediese hulp nodig.

Aangesien privaat hospitale van hier tot in Gauteng tjokvol was, moes ons noodgedwonge van ’n staatshospitaal gebruik maak. Reeds by aankoms het die personeel ons verbaas toe hulle hom flink met ’n rolstoel by die voertuig kom haal het.

Terwyl ek nog besig was om die nodige opnamevorms te voltooi, het die mediese personeel hom dadelik op suurstof gesit en bloed getrek. Resultate het gewys dat hy Covid-19-pneumonie (longontsteking) gehad het.

Hier in Lephalale het hulle ongelukkig nie die geriewe gehad om hom te behandel nie en hy is dadelik na Polokwane oorgeplaas waar daar beter toerusting vir dié soort gevalle was.

Daar het hy die beste mediese sorg ontvang. Ek is self ’n apteker en kan daarom getuig die immuglobien wat hy toegedien is, is van die duurder soort medikasie en is ook nie altyd vrylik beskikbaar nie. Hulle het nie geskroom om hom daarmee te behandel nie.

Die dokters het besluit om hom op ’n ventilator te plaas en op daardie stadium was daar net een beskikbaar by die hoësorgeenheid in die Covid-19-afdeling in Modimolle. Die foto’s en artikel wat ek gesien het van daardie afdeling, het gewys dat toerusting van hoogstaande gehalte is. By ons aankoms was dit ook so.

Die personeel is goed opgelei en toegewyde mense wat hul pasiënte met deernis behandel. Besoekers is ongelukkig nie toegelaat nie weens die veiligheidsmaatreëls en ek het dus nie die personeel ontmoet of almal se volle voorname en vanne gekry wat hom behandel en versorg het nie.

Drs. Rodriquez, Thobejane en Nkoane van die intensiewe sorgeenheid is uiters bekwaam. Hulle is bygestaan deur twee verpleegsusters, Sebetlala en Masfidi, wat van dag een af by sy versorging betrokke was.

Hulle het, ondanks die feit dat hulle oorwerk is, hul taak rustig voltooi en die pasiënte in die eenheid met deernis versorg.

Ek wil vir elke personeellid wat hom bygestaan het, baie dankie sê. Van die veiligheidswag wat elke keer sy pakkie wat ek daar afgelaai het, aan hom besorg het, tot hulle wat spesialisdienste verrig het. Ek is oneindig dankbaar vir jul toewyding.

Dit is eers wanneer ’n mens ’n geliefde het, of self in die hospitaal versorg moet word, dat jy bewus word van die personeel se opofferings.

’n Koeldrankie hier en ’n pakkie koekies daar is met dankbaarheid ontvang.

Dié mense werk lang ure onder druk en ’n bederfpakkie laat hulle weer moed skep. Hulle versorg ook pasiënte wat nie ondersteuningsnetwerke het nie. Enige skenking van seep, tandeborsels, tandepasta en waslappe sal verwelkom word.

Ek kan met groot vrymoedigheid aan lesers sê: Indien u mediese hulp en intensiewe hospitaalversorging nodig het, moenie skroom om by die staatshospitaal in Modimolle aan te klop nie.

My man het ook vertel dat hul vraelyste moes voltooi het om die diens en die hospitaalgeriewe te evalueer.

Die bestuur van dié hospitaal is duidelik gesteld en trots op hul goeie diens.

Laastens, alle eer aan ons Hemelse Vader wat hierdie mense gebruik as instrumente om ons geliefdes te versorg en die nodige mediese hulp voorsien. Dit is alles net genade.

Related Articles

Back to top button