MunicipalNews

Ontbos, gesteel of net in stand gehou?

Die Pos het die afgelope week klagtes van die publiek ontvang oor munisipale werkers wat na bewering bome in die omgewing van die reservoirs (bo die Renaissance-aftreeoord) afgesaag het.

Volgens inwoners is daar ’n vermoede dat bome vir vuurmaakhout gestroop word en boonop is dié “werk” na-ure gedoen.

Inwoners het daarop aangedring om te weet of munisipale werkers vir dié diens vergoed is en of die munisipaliteit se voertuie en toerusting wederregtelik gebruik is vir eie gewin.

Talle inwoners het aangedui dat die natuurskoon in hierdie omgewing vir hulle baie belangrik is, aangesien daar planne is om ’n botaniese tuin in die omgewing aan te lê.

Inwoners van Bela-Bela was die afgelope naweek ontstoke toe munisipale werkers begin het om bome te ontbos in die omgewing van die reservoir tussen die Renaissance-aftreeoord, Panoramapark en Olienhoutstraat. Die inwoner wat dié foto’s aan Die Pos gestuur het, het gesê die omgewing is beskermde terrein waar voëls ongehinderd broei en hase gereeld opgemerk word. Hy het gesê dit is ironies dat daar oor ’n naweek bome gestroop word, terwyl water en riool uit lekkende pype juis in dié omgewing gereeld straat-af stroom sonder dat die munisipaliteit dit herstel.

Kabelo Mosito, munisipale woordvoerder, het by navraag gesê “ander” inwoners in die omgewing het die munisipaliteit vroeër versoek om die gebied te “ontbos” omdat hulle onveilig daar gevoel het. Hy het nie gesê wie dié groep inwoners is nie.

Tinus Ras, DA-raadslid, het by navraag gesê dit maak nie sin dat ’n hele gebied ontbos is nie en munisipale werkers moes met diskresie van die groot inheemse bome gelos het.

“Ons glo nie dat die gebied vir vuurmaakhout ontbos is nie. Daar is plekke by die reservoir se grensdraad waar instandhouding gedoen moes word,” het hy gesê.

“Die bewerings oor oortydwerk lyk wel verdag en sal ondersoek word,” het hy gesê.

Related Articles

Back to top button