BlogsOpinion

Hoofartikel: Aanlynliefde in grendeltyd

Die soeke na liefde en ’n lewensmaat is so oud soos die oerskepping — selfs Adam moes ’n Eva kry om die skeppingsprentjie te vervolmaak. 

Maar die soeke na liefde en menslike interaksie het tydens die Covid-19-grendeltyd ’n aanlynaffêre geword met nuwe reëls en heelwat nuwe uitdagings.

Met dié dat kerke, restaurante, werkplekke, kuierplekke, dansplekke en selfs vriende en familie se deure vir maande dig toe gegrendel is, was mense vasgekluister in hul huise. Hulle het sosiale afstande gehandhaaf. Hulself afgesonder. Stoksielalleen.

So het ek, op aanbeveling van ’n dolgelukkige, pasgetroude paartjie wat juis aanlyn ontmoet het, myself in die onbekende vaarwater van die kuberruim begeef. Dié pasgetroudes het ’n sekere baie gewilde platform voorgestel en siedaar.

Daar was selfs ’n opsie om die visnette in internasionale waters te gooi en sodoende kanse te vergroot om dalk “Die Een” te vang.

Maar só braaf en (man)moedig is ek nou nie. Die Engelse sê mos hoeka: Better the devil you know than the devil you don’t. My bootjie vaar net in ons oseane, damme en riviere, het ek besluit.

Die eerste stap is om die toep op jou slimfoon af te laai (vra gerus ’n tiener as jy vashaak) en ’n profiel te skep. Kuberwaghonde waarsku dat ’n mens so min as moontlik inligting moet verskaf.

Geen verwysing na jou tuisdorp of voorstad en werkgewer se naam of adres nie. Skuilname is ’n goeie opsie. Iets soos “Meisie van Marble Hall” of “Vossie van Vaalwater”. Wees net gewaarsku dat enige — selfs álle — inligting vals kan wees. “Boerseun van Bela-Bela” is dus moontlik “Dik Frik van Groblersdal” — getroud en op soek na ’n skelmpie.

Die tweede stap is die kies van ’n profielfoto, want dit is jou paspoort tot sukses. Dit neem letterlik vyf sekondes om iemand se profielfoto te bekyk en te beoordeel, want deur links te “blaai” beland hierdie foto in die kuberasblik. Indien jy ’n “goeie gevoel” het oor “Boetie van die Bosveld” kan jy regs “blaai” sodat hy saam met die ander regsgeblaaides in jou visdam beland.

Vroue, maak julle reg vir honderde visvang-, bokskiet- en bier-in-die hand-profielfoto’s. Hierdie manne het duidelik nie opgelet in die klas nie, want sulke “aas” sal tientalle Evas laat verbyswem.

’n Foto van twee manne, hand om die skouer met ’n dop in die hand is dalk heel onskuldig tydens ’n rugbyeindstryd geneem, maar as profielfoto skep dit die indruk dat jy heel moontlik ’n kroegvlieg met ’n drankprobleem is.

Manne, kies liefs ’n foto met jou skattige kinders wat enige moederhart sal sagmaak terwyl dierliefhebbers se knieë sal knak oor foto’s van jou saam met Wagter of Kietsie.

Aksiefoto’s van drawwers, fietsryers of swemmers behoort die sportiewe Evas se harte vinniger te laat klop.

Dink maar mooi, want kies jy verkeerd kan dit jou duur te staan kom en potensiële pasmaats die hasepad laat kies.

Related Articles

Back to top button