CrimeNews

Sekuriteitswag dood nadat kitsbank by inkopiesentrum opgeblaas is

Die Bosveld Pick n Pay-inkopiesentrum in Bela-Bela is in die vroeë oggendure van Dinsdag 7 September in rep en roer nadat rowers twee kitsbanke in die sentrum opgeblaas het.

’n Jong veiligheidswag by die sentrum is tydens dié gewaagde rooftog noodlottig gewond.

Hy is geïdentifiseer as Thomas Maluleka (41) van Cyferskuil. Maluleka is deur sy maatskappy geloof as ’n staatmakerwerker.

Volgens sers. Frans Maponya, polisiewoordvoerder, het die voorval by die finansiële instansie Net1 (tussen die Absa- en Nedbank-takke) plaasgevind. Dié instansie bied onder meer finansiële dienste aan hulpbehoewendes.

Die rowers het met ’n onbekende bedrag kontant weggekom. Veiligheidswagte op die perseel het hulle ná die eerste plofslag na die instansie gehaas.

’n Skietery het tussen die wagte en die rowers ontstaan waarna Maluleka gewond is, het Maponya gesê.

Die onbekende aantal rowers het daarna op die vlug geslaan, het Maponya aan Die Pos gesê. Maluleka is na die naaste hospitaal gehaas, maar hy het in die hospitaal aan sy wonde beswyk.

Die inkopiesentrum se bestuur het in ’n verklaring gevra dat die publiek nie sensitiewe inligting oor die voorval sal versprei nie, aangesien dit die ondersoek in die wiele kan ry.

Die sentrumbestuur het hul medelye uitgespreek teenoor die familie van die veiligheidswag.

Teen druktyd vandeesweek was die sentrum weer tydens gewone sake-ure oop vir die publiek.

Related Articles

Back to top button