LifestyleLocal Lifestyle

Vaalwater-inwoners skud hul vere reg vir gemeenskapsmark

Die pragtige plattelandse dorp Vaalwater, wat aan die voet van die Waterberg geleë is, bied op Saterdag 25 September hul eerste gemeenskapsmark in die boeresaal aan.

Die Waterberg-toerismekantoor sal by hierdie geleentheid ook ’n uitstalling aanbied oor bestemmings in die Waterberg vir toeriste en besoekers.

Deel van hul uitgebreide program is ’n fietswedren. Die fietsryers kan reeds vroegdag aantree vir die wedren van 90 km wat padlangs deur die Bosveld tot by Bulgerivier kronkel en dan weer terug na die boeresaal. Die registrasiefooi vir deelname is R50.

Die mark begin om 09:00 en besoekers sal nie teleurgestel wees met die wye verskeidenheid produkte wat by 30 stalletjies aangebied word nie.

Heerlike eetgoed is sinoniem met ’n Waterberg-mark. Vars plaasprodukte sal te koop aangebied word, asook hand- en kunswerke van inwoners van die Waterberg en omgewing.

Vir die jongspan sal daar springkastele, vlugbalkompetisies in verskillende ouderdomsgroepe en kreatiewe gesigverf wees.

Plaaslike kunstenaars en bekendes soos Clive Walker, Liz Hunter, Robin Taylor en Bianca Jansen van Vuuren sal hul werk in die saal uitstal.

Om Erfenisdag te vier sal daar ook ’n uitstalling deur die Waterberg Living Museum, Sepedi-dansers en ’n marimba-orkes saam met ander musikante optree.

Die uitstallers sal 10% van hul wins aan die boeresaal skenk. Met hierdie geld sal die saal opgegradeer word sodat meer geleenthede ook daar aangebied kan word.

Die perseel kan vir sosiale-, kultuur-, sport- en ander geleenthede gebruik word. Die organiseerders bedank die Elizabeth Margaret Steyn (EMS) Stigting en ander borge en helpers wat die boeresaal-projek ondersteun.

Almal in die Vaalwater-gemeenskap is welkom om betrokke te raak as uitstallers, borge of vrywilligers.

Die boeresaal is op die hoek waar die Lephalale-pad wegdraai uit Vaalwater se Mainstaat, oorkant Spar. Daar is veilige parkeerplek op die ruim, omheinde terrein. Almal is hartlik welkom.

Covid-19- maatreëls sal geld; moet dus nie die maskers vergeet nie.

Vir meer inligting stuur ’n e-pos na Laura Dowinton by bookings@farmershall.co.za(.)

Related Articles

Back to top button