Local sportSport

Limpopo hengelaars wen brons

Modimolle spog met twee hengelaars wat Limpopo by die Suid-Afrikaanse Varswater-oewerhengelfederasie (SAVOF) se karp-opetoernooi verteenwoordig het.

Die toernooi is verlede naweek by die Bloemhofdam in Noordwes gehou.

Die Limpopo-span het ’n welverdiende derde plek (brons) verwerf. Die toernooi het van Saterdag 28 Augustus om 10:00 tot Dinsdag 31 Augustus om 10:00 geduur.

Martin Jansen van Vuuren (57) en Tiaan Diederiks (32), albei van Modimolle, behoort aan die Labeo-hengelklub in die Waterberg-distrik en het saam met nog ses ander hengelaars aan die karp-afdeling deelgeneem.

Elke span het uit 10 lede — ’n kaptein, bestuurder en agt hengelaars — bestaan wat twee-twee vir die volle drie dae gehengel het. Hengelaars hou die visse wat gevang word in spesiale sakke in die water totdat dit deur die toernooibeampte, wat twee maal per dag besoek afgelê het, geweeg en opgeskryf is.

Daarna is die visse weer vrygelaat. Punte is toegeken volgens die hoeveelheid visse, asook die gewig van die visse.

Die visse was maar skaars aangesien dit die naweek yskoud by die Bloemhofdam was. Van Vuuren het aan Die Pos gesê die vangste was aansienlik minder as vorige jare.

Ongeveer 200 kg aas, wat hoofsaaklik uit wit- en geelmielies en nog ’n paar geheime bestanddele bestaan het, is gebruik. Daar mag slegs met vier visstokke per span gehengel word. Hy het verduidelik dat die twee spanmaats in een 20×20 m “kamp” moes bly vir die 72-uur van die toernooi.

Hulle het al hul eie kampeertoerusting gebring en in tente geslaap, terwyl hul ondersteuningspan gesorg het vir hul etes wat daagliks by die kamp afgelewer is.

Volgens Van Vuuren het die kwik een aand tot -7°C gedaal wat al hulle drinkwater kliphard laat vries het.

Van Vuuren woon die afgelope 22 jaar in Modimolle saam met sy vrou, René, en hul vyf kinders. Hy vertel dat hy kleintyd skelm gaan visvang het op sy tannie se plaas, al het die “grootmense” uitdruklik gewaarsku dat hulle nie alleen naby die plaasdam mag kom nie. Die nadeel hiervan was egter dat hy nooit vir iemand kon vertel dat hy toe al met sy eerste ingooislag ’n karp gevang het nie! Die grootste karp wat hy al gevang het, was ’n knewel van 21 kg.

Diederiks is ’n gebore Nylie en ook kranige gholfspeler wat eers onlangs aan hengelkompetisies begin deelneem het. Hy is nou drie jaar lid van die Labeo-hengelklub. Dit was vanjaar sy eerste deelname aan die Suid-Afrikaanse-karp-ope en Johan Jansen van Vuuren, van Mokopane, was sy kampmaat. Die grootste karp wat hy tot dusver gevang het, was ’n bielie van 23 kg.

Diederiks vertel dat sy vrou, Finachlie, eintlik die stilte oor naweke waardeer wanneer hy op die gholfbaan of langs die viswaters is. Sy is tans besig met ’n honneursgraad in onderwys. Hulle het ’n woelwaterseuntjie, Reenen, wat nou twee en ’n half jaar oud is. Sy ouma sit graag hand by om na hom om te sien.

Die Bloemhofdam is een van die grootste opgaardamme in die land. Dit is waar die Vaalrivier en die Vetrivier saamvloei op die grens tussen die Vrystaat en Noordwes.

Die dam is ’n baie gewilde hengelplek met meer as 250 voëlspesies en troppe swartwildebeeste, elande, springbokke en gemsbokke in die aangrensende natuurreservate.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button