Local sportSport

Só draf Thaba-atlete saam vir ’n goeie doel

Ongeveer 250 atlete van Thabazimbi en omgewing het op Saterdag 4 September op die wegspringlyn by Pondok aangetree vir vanjaar se Spar Women’s Challenge (SWC).

Die deelname in hierdie virtuele wedren is ’n bewys van die Thabazimbi-gemeenskap se betrokkenheid by liefdadigheid.

“Dit maak nie saak in watter omstandighede ons ons bevind nie, daar kan nooit ’n demper geplaas word op die veerkragtigheid, optimisme en eenheid van ons land se mense nie.”

Só het Mike Prentice, nasionale bemarkingshoof van die Spar-groep, ’n jaar gelede gesê toe dié kettingwinkelgroep die eerste virtuele Spar Women’s Challenge (SWC) aangekondig het.

Dié byeenkoms het verlede jaar — soos talle ander landwyd — weens die uitbreek van die Covid-19-pandemie in die slag gebly en toe die tyd aanbreek vir die jaarlikse SWC het die organiseerders dit goed gedink om die wedloop virtueel aan te bied.

Die SWC het in 1992 ontstaan toe die organiseerders ’n wedloop wou reël waar vroue ’n 5 km of 10 km wedloop kon aflê sonder die vrees om vrou-alleen deur die strate te draf.

Dié wedloop is deesdae een van die hoogtepunte op die Suid-Afrikaanse sportkalender waar mans en vroue op nasionale vlak kragte meet op die langpad.

Die SWC is ook ’n jaarlikse bewusmakingsveldtog vir die beweging wat geweld teen vroue en kinders beveg.

Alle geld wat landwyd by dié wedlope ingesamel word, word ten bate van die Spar Petal Project aangewend. Dié projek is ten doel om jong, minderbevoorregte meisies te help om hul skoolgeld te betaal.

Die afgelope naweek het die atlete met geesdrif deelgeneem aan die wedloop. In egte Thaba-styl was daar groot pret by vanjaar se wedloop en atlete en hul ondersteuners is vermaak deur die plaaslike musiekgroep Van and Nash.

Die organiseerders spreek hul dank uit teenoor al die deelnemers en die borge wat gehelp het om vanjaar se Spar Women’s Challenge ’n reusesukses te maak.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button