Local newsNews

Gemeenskap treur oor geliefde Mearle

Inwoners van Bela-Bela is die afgelope week diep geraak deur die dood van Mearle Norman (68) een van die dorp se mees geliefde inwoners.

Norman, wat meer as 30 jaar ’n haarkapper was en ook bekend was vir die pragtige trou- en matriekafskeidrokke wat sy gemaak het, is op Woensdagaand 25 Augustus in die Netcare Linmed-hospitaal in Benoni oorlede nadat sy sowat twee weke tevore met Covid-19 gediagnoseer is.

Volgens haar dogters het sy aanvanklik goed op die medikasie gereageer en het sy verkies om die eerste week tuis by haar woonstel in die Casablanca-woonstelblok in die dorp aan te sterk.

Norman het in dié tyd gereeld telefonies met haar vriende in die dorp gekommunikeer. Sy kon nie uitgepraat raak oor hoe goed haar bure, kliënte en selfs vreemdelinge vir haar in dié tyd was nie. Sy het vertel dat dit haar bewoë gemaak het dat soveel mense vir haar omgee, vir haar kos bring, vir haar bid en na haar welstand verneem.

Sy het in dié tyd gespot dat sy net “Vanilla Cup Cakes” van Checkers nodig het om haar op te beur en dat dit eintlik die “pajamas” is wat haar siek maak; nie die virus nie.

Sy wou baie graag by haar eie woonstel aansterk omdat sy besig was om aan verskeie rokke vir kliënte te werk. Sowat ’n week later het haar toestand egter begin versleg en haar oudste dogter, Jacqui Dalrymple, het haar ma kom haal om by haar in Gauteng te versorg.

Norman is die volgende dag in die hospitaal opgeneem en ’n paar dae later na die hoësorgeenheid geskuif. In dié tyd het Jacqui en haar suster, Nicqui Boshoff, ure by hul ma in die hospitaal deurgebring. Norman het ook telefonies uit haar hospitaalbed met haar familie en vriende gepraat.

Sy was die laaste twee dae voor haar dood aan ’n ventilator gekoppel en is volgens haar dogters rustig in haar slaap oorlede nadat haar suurstofvlakke begin daal en haar hart en lewer ingegee het.

“Our mom got her angel wings. She went peacefully and we are so grateful that we got to spend time with her before she left us. The Bible says to be absent from the body is to be present with the Lord. We know that she is in a better place,” het die boodskap van haar dogters gelui.

Die Pos het twee jaar gelede ’n onderhoud met Norman gevoer waarin sy vertel het hoe lekker dit vir haar is om mense se droomrokke te maak.

“Ek sit ure se werk in. Ek gee my álles en soms is die oomblik te groot as ek sien hoe pragtig die meisies lyk,” het sy vertel.

Hoewel sy allerweë as een van die beste modeontwerpers van die omgewing beskou is, het dié nederige vrou dikwels bewoë geraak by die aanhoor van komplimente en gesê sy is ’n “rokmaker”, nie ’n ontwerper nie.

“Elke jaar as ek tussen die skare sit wanneer die meisies met hul rokke uitkom, is ek senuweeagtig,” het sy gebieg.

Van haar mooiste eienskappe, wat haar jarelange vriendinne en kliënte in die dorp onthou, is haar vermoë om ander op te beur met raad, laatnag kuiertjies en trooskos.

Mense onthou hoe lekker sy kon lag en hoe maklik die trane ook kon loop. Sy het ’n omgeehart vir ander gehad en haar twee dogters en hul gesinne was die groot liefde van haar lewe. Haar dogter, Jacqui, het aan Die Pos gesê die mooiste eienskap van haar ma was haar liefdevolle hart.

“Almal wat haar geken het, was lief vir haar.”

Nicqui het gesê sy sal haar ma onthou as iemand wat ’n vol lewe gehad het, ’n groot hart, talentvolle vingers, ’n mentor en iemand wat trots daarop was om haar lewenspad saam met Jesus te loop.”

’n Viering van Norman se lewe is op Vrydag 3 September in die Methodiste Kerk in Bela-Bela gehou.

Sy word oorleef deur haar dogters en hul eggenote, Jacqui en Shaun Dalrymple en hul twee dogters, Madison en Abigail, asook Nicqui en Marius Boshoff en hul twee dogters, Jordan en Riley.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button