Local newsNews

Augustus is diegene met groen vingers se gunstelingmaand

Wanneer ’n mens die pragtige Lizanda Leversage by die indrukwekkende voordeur ontmoet, kan jy beswaarlik glo dat hierdie klein, fyn vroutjie die meeste van haar tyd met haar hande in die grond vroetel waar sy mense se tuine in ’n lushof verander.

Die Pos het by haar gaan besoek aflê om raad te kry oor die nuwe seisoen wat voorlê.

Sy is in die Vrystaat gebore en getoë en het aan die destydse Randse Afrikaanse Universiteit ’n BA-graad in joernalistiek behaal.

Sy en haar man, George, het ná hul troue in 1977 op die plaas Ceres in die Roedtan-omgewing kom woon.

“Ek het my liefde vir tuinmaak van my ouers gekry. My pa was ’n professionele fotograaf en my ma het altyd gesorg vir blomme êrens in die huis. Soms was dit ’n enkele blomsteel in ’n klein potjie, maar daar was altyd vars blomme in die huis,” het sy laggend vertel.

Sy het dadelik begin om ’n tuin op die plaas aan te lê en met die vryheid van ruimte het dit gou in ’n lushof verander waar sy verskeie glansgeleentheide in markiestente aangebied het.

Sy het ’n tuinbouklub begin en blommerangskikkingskursusse deurloop. George het in 2001 vir haar ’n kwekery gekoop. Sy behartig die afgelope 22 jaar tuinuitleg en het al skouers geskuur met bekendes in die bedryf. Sy sê haar mentors in die beroep is Keith Kirsten en Nancy Gardener.

“Elke gebied het sy endemiese plante wat welig daar groei, maar elke streek het ook sy unieke uitdagings en behoeftes. In Die Pos se lesersgebied, waar erge droogte die afgelope paar jare ervaar word, het die tradisionele tuin met massas groot blaarplante en ’n oorvloed fyntuin plek gemaak vir ’n meer geharde tuin wat min water nodig het,” het sy gesê.

Die fokus in hierdie soort tuine is meer op potte en klippe. Spoelklippe kan ook beddings mooi afrond. Die immergewilde spoorwegdwarslêers bly gewild om paadjies mee uit te lê. Die gewone sementblokke kan ook baie kunstig in ’n tuin aangewend word.

Die klem het intussen verskuif van fyntuin na meerjarige plante en struike. ’n Grasperk, al is dit piepklein, bly pragtig en Augustus is net die regte tyd om dit kort te sny, wortels los te maak en kunsmis of ’n deklaag te gee. Dit moet daarna goed natgemaak word.

“Dit is nou ook die beste tyd om te snoei, want die plantseisoen het nog nie regtig begin nie. Snoei nou vrugtebome en plante wat nie vroeg in die lente of vroeë somer gaan blom nie,” was haar raad aan tuiniers wie se vingers begin jeuk.

Lê ook sommer nou stiggies in van die struike wat gesnoei is om aanstaande jaar se tuin mee uit te brei. Dit is nou ook die beste tyd om plantvoedsel te gee.

Vloeibare plantvoedsel wat opgelos word in water en met ’n gieter toegedien word, is ideaal vir ’n dorpstuin. Met korreltoediening moet die tuinier versigtig wees dat die korrels nie teen die stam lê nie en verkieslik moet die bedding eers natgemaak word voor toediening. Plante het meer water nodig nadat plantvoedsel toegedien is.

Alle plante se groei begin in die wortels en 45 dae ná die eerste plantvoedseltoediening moet dit herhaal word.

Dit is nou ook die ideale tyd om veranderinge in die tuin aan te bring en plante te verskuif, mits dit nie baie sterk of koue wind gaan kry nie.

Sy het aanbeveel om spatsels kleur in die tuin te kry met saailinge wat lank blom.

“Die Covid-19-tydperk laat mense eensaam voel en is dit baie terapeuties om in die tuin te werk. Dit laat ’n mens emosioneel sommer weer beter voel. Jou tuin het nie nodig om lappe aarde te beslaan nie. Selfs al maak jy tuin in ’n houer, is dit bevredigend. Doen dit!” was haar raad.

Related Articles

Back to top button