LettersOpinion

Brief: Vullisterreine wek kommer

Slegs 1 uit 11 vullisterreine wat in Limpopo geoudit is, het aan nasionale standaarde voldoen.

Magdel Jansen van Vuuren, AfriForum: provinsiale distrikskoördineerder, skryf:

AfriForum het vanjaar 153 vullisterreine landwyd geoudit as deel van dié organisasie se nasionale projek om die gehalte van vullisterreine in Suid-Afrika te meet.

Slegs 1 uit 11 vullisterreine wat in Limpopo geoudit is, het aan nasionale standaarde voldoen.

Kragtens toepaslike wetgewing en regulasies, waaronder die wet op nasionale omgewingsbestuur, moet ’n vullisterrein aan bepaalde vereistes voldoen.

Só vergelyk die vullisterreine in Limpopo wat persentasiegewys aan die wettige vereistes voldoen het in 2021: Lephalale (15%), Groblersdal (66%), Leeupoort (gesluit), Makhado (gesluit), Marble Hall (72%), Mookgophong (12%), Modimolle (4%), Phalaborwa (64%), Roedtan (0%), Thabazimbi (4%), Tzaneen (100%) en Bela-Bela (36%).

Drie van die persele — Lephalale, Mookgophong en Thabazimbi — beskik nie oor die nodige stortingspermitte nie. Dit is ooglopend dat die meeste vullisterreine in Limpopo in ’n haglike toestand is.

Dit kan hoofsaaklik toegeskryf word aan mense wat op die vullisterreine woon en vuurmaak. Daar word gereeld diere-afval op van die terreine gestort en daar is in talle gevalle geen sorteringsnetwerke nie.

Die meer algemene probleme wat AfriForum tydens die oudit aangetref het, is die afwesigheid van afvalbestuurslisensies en ’n algehele wanbestuur van terreine.

Munisipale verval is aan die orde van die dag, veral by kleiner munisipaliteite wat onder grootskeepse wanbestuur gebuk gaan.

AfriForum het in die laaste twee jaar by verskeie geleenthede met Barbara Creecy, minister van omgewingsake, en haar span hieroor vergader.

Ses terreine is geïdentifiseer wat, in samewerking met die departement en AfriForum, opgegradeer sal word.

AfriForum sal ook daarop fokus om saam met munisipaliteite die probleme by sommige van die terreine in die provinsie aan te pak en om druk toe te pas om sekere terreine weer reg te ruk.

AfriForum sal die proses deurlopend moniteer om te verseker dat die vullisterreine se standaard genoegsaam verbeter.

Related Articles

Back to top button