Local newsNews

Nog ’n bekende sterf weens Covid-19

Nóg ’n geliefde inwoner van Mookgophong, Suzette Louw (59), het op Woensdag 18 Augustus aan Covid-19 gesterf.

Suzette is die vrou van DA-raadslid Hercules Louw van die Modimolle-Mookgophong-munisipaliteit.

Sy was, saam met haar man, baie betrokke by die Naboom Tehuis vir Bejaardes. Hercules is die bestuurder van die tehuis en Suzette was ’n administratiewe beampte.

“Sy was geliefd onder die personeel en inwoners en ons sal haar baie in die daaglikse bestuur van die inrigting mis,” het ’n hartseer Hercules gesê. Hy het aan Die Pos gesê dit was ’n groot voorreg om die afgelope ses jaar saam met haar te werk. Hulle kantore is reg oorkant mekaar by die ingang van die tehuis.”

Ons het ’n besondere band met die inwoners gehad en sy het altyd ekstra moeite gedoen om mense in nood by te staan,” het hy gesê.

Suzette is op Sondag 1 Augustus positief getoets vir Covid-19 en is kort daarna in die Phodi Clinic in Bela-Bela opgeneem.

Sy is op Woensdag 3 Augustus in die hoësorgeenheid van die 1 Militêre-hospitaal in Pretoria opgeneem waar sy aan ’n ventilator gekoppel is.

Haar gesondheid het só mooi verbeter dat sy na ’n algemene saal oorgeplaas is.

“Ek was Woensdag 18 Augustus op pad omdat ek ingelig is dat sy ontslaan sou word. Net toe ek Pretoria inry, het die dokter my gebel en gevra dat ek eers na haar spreekkamer toe moet gaan. Daar het ek die verskriklike nuus ontvang dat Suzette die oggend om 07:30 aan ’n bloedklont dood is,” het Hercules vertel.

Suzette is in Vryburg gebore en het ook daar gematrikuleer. Sy was baie sportief op skool en het twee swart gordels vir JKA-karate in Suid-Afrika verwerf.

Sy en Hercules het ’n seun, ook Herculus. Die egpaar was vanjaar 30 jaar getroud. Sy het haar Christenskap uitgeleef en mense in nood bemoedig met boodskappe en ondersteuning.

“Sy het altyd eers gou ingeloer en ’n bietjie gesels as sy by my huis verbygestap het. Ek sal dit mis, “ het Toeks Erasmus, een van haar buurvroue, gesê.

Die roudiens het op Woensdag 25 Augustus in die Avbob-kapel in die dorp plaasgevind.

Related Articles

Back to top button