NewsSchools

Departement sloer al maande nadat dak ingestort het, sê besorgde ouers

Die provinsiale departemente van gesondheid en onderwys loop onder fel kritiek deur nadat ’n gebou van die Thusanang Special School in die Bela-Bela-township in Mei ingetuimel het en steeds nie herstel is nie.

Daar is volgens amptelike bronne 35 skole en inrigtings in die provinsie wat voorsiening maak vir kinders met spesiale behoeftes wat nie in hoofstroomskole onderrig kan word nie.

Katlego Suzan Phala, DA-lid van die provinsiale wetgewer, het die perseel op Donderdag 19 Augustus besoek.

Sy het aan Die Pos gesê die DA is bekommerd oor skole wat met min hulpbronne, min personeel en swak infrastruktuur te midde van die Covid-19-pandemie moet funksioneer.

Thusanang het volgens ’n nie-opgedateerde lys van die departement altesame 240 leerders. Die getal kon egter nie bevestig word nie.

“Ons het vasgestel dat die nuutgeboude koshuis van Thusanang strukturele probleme ondervind. Die instansie se kombuisgebou het later ineengstort. Dit maak dit tans onmoontlik om kos op ’n higiëniese manier vir leerders voor te berei.”

Phala het gesê die DA eis dringende antwoorde van Polly Boshielo, LUR van onderwys in Limpopo, oor die stand van sake by spesiale skole in Limpopo.

“Ons vra lank reeds vrae oor sekere spesiale skole in die provinsie se geldige bedryfslisensies soos voorgeskryf deur die wet.”

Phala het gesê sy is uiters bekommerd oor die instandhouding op skoolgeboue in die provinsie.

“Dit is tyd dat departemente en amptenare wat swak besluite neem, en veral kontrakteurs wat tenders ontvang en dan swak werk lewer, voor stok gekry word.”

Tidimalo Chuene, woordvoerder van die departement van onderwys, het by navraag aan Die Pos gesê swak konstruksiewerk was die oorsaak van die instorting van die gebou by Thusanang.

Die betrokke gebou met strukturele foute is volgens hom vooraf ontruim en leerders is oorgeplaas na tydelike geriewe terwyl kontrakteurs die betrokke gebou besoek het.

“’n Afvaardiging van die departement het die skool intussen besoek en 12 tydelike klaskamers beskikbaar gestel, asook ’n tydelike kombuis- en bykomende oornaggeriewe wat storte en ’n waskamer het,” het hy gesê.

“Werkers van die departemente is in die proses om die strukturele foute na te gaan vir herstelwerk en sal aandag skenk aan die bestaande infrastruktuur en onderhoud.”

Related Articles

Back to top button