Local newsNews

Dié vroue se harte lê in Thabazimbi

Thabazimbi het ’n groot aantal inwoners wat nie huiwer om te wys waar hul hart lê nie.

Die vroue van dié dorp se tak van die Suid-Afrikaanse Vrouefederasie (SAVF) is só ’n groep.

Die SAVF beywer hulle sedert 1904 om hul gemeenskappe te dien.

“Die SAVF se hoofdoel is welsyn,” vertel Annali Connear, president van die SAVF in Thabazimbi.

Sy is vroeër vanjaar as visepresident van die SAVF se Limpopo-tak aangewys.

“Ons werk elke dag met gesinne en veral kinders wat hulp nodig het,” het sy gesê.

Die Thabazimbi-tak se verhaal het begin met ’n klein groep vrywilligers wat onverpoosd gewerk het om kospakkies op te maak en aan behoeftige inwoners versprei het. Later het die behoefte vir ’n maatskaplike werker ontstaan en die eerste volwaardige kantoor is op 8 Augustus 2008 geopen.

Deesdae dien dié span voorslagvroue by die SAVF en ’n groep goedhartige vrywilligers steeds Thabazimbi se inwoners met liefde en deernis.

Connear is aan die stuur van sake saam met twee maatskaplike werkers, Daleen Delport en Sharen Botes wat eersdaags by die span aansluit, en Christel Barnard as administratiewe klerk.

“Die SAVF bied verskeie maatskaplike dienste soos die opstel en bestuur van ouerskap-planne, traumaberading vir kinders en gesinne, aannemings, pleegsorg en toesigbeheer,” het Barnard gesê.

“Ons help ook om plekke van veiligheid te identifiseer en dié wat dit nodig het daar te plaas terwyl ons as tussenganger optree.”

In vandag se ekonomiese klimaat is talle maatskaplike staatsubsidies gesny en daarom is die SAVF nou meer as ooit tevore afhanklik van donasies en vrywilligers.

Die SAVF moedig behoeftige inwoners aan om hulle te kontak vir ondersteuning en verwelkom ook alle gesinne wat afhanklik is van maatskaplike hulp om by hulle aan te klop.

“Ons wil graag meer mense in ons dorp betrokke maak by barmhartigheidsdiens. Ons is dankbaar vir alle hulp.”

Projekte wat die tak tans onderneem sluit in:

  • Die SAVF-gemeenskapswinkel: Die winkel is twee keer per week oop en die inkomste word vir projekte aangewend. Besoek gerus die winkel elke Woensdag of Vrydag tussen 07:00 en 16:00.
  • Flesse van hoop-projek: Die SAVF samel jaarliks sopbestanddele in om in bottels te verpak en aan behoeftige gesinne te gee.
  • Vakansieprojekte: Vrywilligers stel hulself beskikbaar om kinders wie se ouers nie oor hulle kan toesig hou nie, tydens vakansies met prettige aktiwiteite besig te hou.
  • Die SAVF en ATKV (Afrikaanse Taal en Kultuurvereniging) -projekte: Dié twee organisasies bestuur saam verskeie projekte om Afrikaans as taal te bevorder.
  • Bejaardesorg: Die SAVF onderneem verskeie uitstappies en besoeke aan plekke waar bejaardes versorg word. Hulle maak baie staat op vrywilligers om hierdie besoeke vir die bejaardes vreugdevol te maak.
  • 16-dae van aktivisme teen geweld teen vroue en kinders: Dié projek fokus op bewusmaking van gesinsgeweld en dwelmmisbruik.
  • Lappies van Liefde: Vrywilligers is tans besig om 365 stukke lap in blokke te sny met die doel om ’n lappieskombers aanmekaar te werk. Met hierdie projek word verskeie sakeondernemings aangemoedig om deel te neem deur ’n blokkie teen R365 te borg. Die kombers sal later vanjaar op ’n veiling verkoop word om verdere geld in te samel vir die SAVF-projekte.

Die SAVF-kantoor is in Parkstraat 5, Thabazimbi. En is Maandae tot Vrydae van 08:00 tot 16:00 oop.

Hul telefoonnommer tydens kantoorure is tel. (014) 777 1098. Die noodnommer is tel. 084 218 1813 of stuur ’n e-pos na Thabazimbi.admin@savf.co.za of Thabazimbi.swol@savf.co.za(.)

Related Articles

Back to top button