CrimeNews

Bende rowers slaan op Radium-plaas toe

Inwoners van die Radium-omgewing buite Bela-Bela is op hul hoede nadat ’n rooftog tussen Dinsdag 10 Augustus en Woensdag 11 Augustus op ’n plaas afgespeel het.

Volgens inligting van die Bela-Bela-polisie het een van die inwoners (wat op die perseel was tydens die rooftog) hul honde teen ongeveer 20:30 hoor blaf en by die venster uitgekyk.

Die inwoners, wie se name nie deur die polisie verskaf is nie, woon in twee afsonderlike wooneenhede wat naby mekaar op dieselfde perseel geleë is.

Volgens die ooggetuie se verklaring het sy vier verdagtes in die erf gewaar. Almal het klapmusse aangehad.

Sy het gesien hoe die booswigte ’n klip deur die aangrensende huis se glasdeur slinger om só toegang tot die huis te verkry waarna hulle die huisbewoner met ’n baksteen oor die kop geslaan en vasgebind het.

Die ooggetuie (van die aangrensende eiendom) het op daardie stadium gevlug, het die polisie gesê.

Sover bevestig kan word het die rowers die nabygeleë stoorkamers se sinkplate gestroop en het huishoudelike en elektroniese toestelle gebuit.

Die slagoffer kon daarin slaag om homself los te wikkel en het die polisie ontbied.

Die polisie het die spore van die rowers tot by ’n nabygeleë grondpad gevolg. ’n Voertuig het vermoedelik daar vir hulle gewag. Van die gesteelde sinkplate is in die veld teruggevind.

Die slagoffer is vir mediese behandeling na ’n plaaslike hospitaal geneem. Die polisie vermoed dat meer rowers by die voorval betrokke was.

Volgens die slagoffer se verklaring was minstens 10 rowers by die aanval betrokke.

Mense met inligting oor die voorval word gevra om vir sers. Frans Sekgobela, ondersoekbeampte, te bel by tel. 082 962 1493.

Related Articles

Back to top button