Local newsNews

Geite en giere…

Wat gebeur in- en om die Waterberg?

Die Modimolle-gemeenskap se Aksie Opknap-span, munisipale werkers en sake-eienaars span deesdae kragte saam om slaggate in die dorp te herstel. Dié reuseslaggat in Boshoffstraat is op Maandag 16 Augustus deur Fernando Goncalves, eienaar van Pavecon, en sy bekwame span werkers met plaveiselstene herstel. Plaveiselstene word deesdae al hoe meer gebruik omdat dit nie soos teer verweer of wegsak gedurende die reënseisoen nie. Aksie Opknap bedank lede van die Waterberg-sakekamer in Modimolle vir die deurlopende hulp om die dorp op te knap.
Die Bela-Bela-gemeenskap is verlede week geskok ná die onverwagse dood van Nico Ras (38). Nico is die seun van Tinus Ras, DA-raadslid, en sy vrou, Freda. Hy was die bestuurder van Camo Meat in Lunastraat. Volgens Tinus het sy seun op Dinsdag 10 Augustus sy eie lewe in Pretoria geneem. Sy skielike heengaan laat ’n groot leemte in die Ras-familie. Nico se gedenkdiens het op Woensdag 18 Augustus in Bela-Bela plaasgevind.
Lede van die Bela-Bela belastingbetalersforum (BBTF) het op Maandag 16 Augustus rioolmonsters in die dorp geneem en weggestuur na die Wetenskaplike en Nywerheidnavorsingsraad (WNNR) vir toetse. Die doel hiervan is om te bepaal of die Bela-Bela-rioolaanleg die omgewing besoedel en gesondheidsgevare inhou. Johan Mills, BBTF-voorsitter, het gesê die toetse sal voorts bepaal of elemente van die Covid-19-virus in die rioolwater teenwoordig is. Op die foto neem Mills en George Baloyi rioolmonsters by een van die punte in die Waterfront-omgewing waar rou riool uitlek.

Related Articles

Back to top button