Local newsNews

Talle vrae oor komende verkiesing

Die langverwagte landwye munisipale verkiesing se datum is, te midde van groot kontroversie, steeds op die almanak aangeteken vir Woensdag 27 Oktober.

Die grondwethof se beslissing om die datum te verander is nog nie afgehandel nie.

Dié verkiesing vind elke vyf jaar plaas, maar oudregter Dikgang Moseneke het vroeër aanbeveel dat die verkiesing na Februarie 2022 uitgestel word weens die heersende Covid-19-pandemie.

Die voorstel is deur die onafhanklike verkiesingskommissie (OVK) na die grondwethof verwys vir beslissing.

Die nasionale registrasienaweek vir nuwe kiesers het nie soos beplan tussen Julie en Augustus plaasgevind nie, maar landsburgers kan steeds aanlyn- of by hul plaaslike OVK-kantore registreer of herregistreer.

Mense wat van adres verander het, is ook aangeraai om hul nuwe adresse te laat opdateer sodat hulle by die korrekte stempunte kan gaan stem. Luidens ’n verklaring van die OVK moet kiesers en voornemende kiesers intussen daarop let dat geen nuwe kiesers tot die stemlys gevoeg kan word nie.

Die rede hiervoor is dat die datum van die verkiesing vir Oktober reeds deur dr. Nkosazana Dlamini-Zuma, minister van samewerkende regering, geproklameer is. Die kieserslys is daarna gesluit.

Indien die grondwethof beslis dat die proklamasie vir die Oktober-verkiesing opgeskort moet word en die verkiesing eers in Februarie 2022 moet plaasvind, sal dit die weg baan vir ’n nuwe kiesersregistrasietydperk.

Volgens Desirée van der Walt, DA-kiesafdelingshoof, word kiesers tans nie verbied om te registreer of herregistreer nie, maar indien die verkiesing in Oktober voortgaan, sal hierdie nuwe kiesers eers aan die volgende verkiesing (oor vyf jaar) kan deelneem.

Dit geld ook vir kiesers wat van adres verander het en dit nooit opgedateer het nie. Indien kiesers aan die vorige munisipale verkiesing deelgeneem het en intussen verhuis het, maar nie in die nuwe kiesafdeling/dorp voor die proklamasie geregistreer het nie, kan hulle in hul ou dorp of wyk gaan stem, het sy gesê.

Die getal nasionale geregistreerde kiesers staan tans op meer as 25 miljoen.

Die land hou intussen asem op oor die grondwethof se beslissing oor wanneer landsburgers hul kruisies kan trek.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button