LettersOpinion

Brief: Bela-Bela se verkeersafdeling is pateties

Dit is verstommend om te dink hoeveel werksdae landwyd in die lang rye voor lisensiekantore vermors word. Ons ekonomie kan nie sulke ondoeltreffende diens bekostig nie.

Hande in die hare, Bela-Bela, skryf:

Ek rig hierdie skrywe aan elke inwoner en motorryer wat al probeer het om hul lisensies by die Bela-Bela-verkeersfdeling te hernu:

Julle het my innige simpatie. Nou weet ek van die frustrasies van mense wat op ’n wettige manier aansoek wil doen vir die hernuwing van geldige rybewyse.

Aan die Bela-Bela-munisipaliteit: Julle swak bestuur is ’n groot bron van kommer, want julle dien nie die plaaslike inwoners wat betaal om daardie diens te hê nie. Die frustrasie wat wetsgehoorsame inwoners by hierdie kantoor ervaar, is lankal ’n onderwerp van bespreking.

Die afgelope week is diens by dié afdeling weer gestaak nadat “tegniese probleme” luidens ’n amptelike verklaring ondervind is. Die waarheid agter die “tegniese probleme” is dat die munisipaliteit versuim het om die nodige oorbetalings aan die nasionale departement van verkeer te maak en die gevolg was dat die munisipaliteit se toegang tot die nasionale verkeersinligtingstelsel (Natis) opgeskort is.

Nou moet ons buurdorp, Modimolle, die las dra vir ons plaaslike munisipaliteit se swak bestuur. Inwoners word aangeraai om teen bykomende koste na Modimolle te reis en dan in die langer wordende rye in te val om geholpe te raak. Hoe lank gaan hulle amptenare nog tevrede wees om die ekstra druk te hanteer?

Die afdeling in Modimolle moet gekomplimenteer word omdat hulle verlede week, tydens my besoek, bereid was om die meer as 150 aansoekers van hul eie dorp en die desperate besoekers van Bela-Bela op een dag te hanteer.

Tyd het hulle egter ingehaal en almal kon nie op een dag gehelp word nie. Nadat ek die hele dag in die ry gestaan het, het ek tot voor die hoofhek aan die straat se kant van die gebou gevorder, waar ek meegedeel is dat daar nie meer mense op dié een dag gehelp kan word nie. My poging was dus onsuksesvol.

Die mense wat gelukkig was om die stoele aan die binnekant van die gebou te bereik, het goeie rede gehad om te glimlag, want hulle het geweet dat die lang wag met sukses beloon sal word.

Selfs tydens die Covid-19-pandemie met al sy regulasies, het die beamptes van Modimolle hul gemeenskap en besoekers van die buurdorp gedien, terwyl die Bela-Bela-munisipaliteit in alle opsigte misluk het om die belastingbetaler tevrede te stel.

Dit is verstommend om te dink hoeveel werksdae landwyd in die lang rye voor lisensiekantore vermors word. Ons ekonomie kan nie sulke ondoeltreffende diens bekostig nie.

Ek was telkens warm onder die kraag omdat laatkommers heeltyd ingedruk het met die flou verskoning dat iemand vir hulle plek gehou het.

Daar behoort ’n beleid te wees om dit te verbied. Dit veroorsaak onnodige wrewel.

You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button