NewsSchools

Jongspan nie ‘te klein’ om ander te bemoedig

Die nasionale Bome van Hoop-projek (BHP) het ’n maand gelede in Thabazimbi afgeskop en sedertdien is die dorp se bome oral in geel getooi om ’n boodskap van hoop te bring.

Die vrywilligers van die BHP het die afgelope paar weke ook besoek afgelê by verskeie skole in en om Thabazimbi om dié positiewe boodskap ook aan leerders te bring.

Liza Yssel, een van die verteenwoordigers van die BHP, het besoek afgelê by Die Bliksoldaatjies-dagsorgsentrum, gewapen met heerlike lekkernye en ’n boodskap van hoop om dié skool se leerders en personeel te inspireer om deel te word van die BHP.

“Mense wonder soms hoekom ons dié boodskap aan kleuters wil bring, want hulle is nog so klein,” het Mareli Coetzee, BHP-verteenwoordiger, gesê.

“Ek dink mense vergeet dat volwassenes se ingesteldheid en emosies ook hul kinders raak. Kinders ervaar onbewustelik dieselfde angstigheid of vrees wat ons as grootmense ervaar. Hulle voel die spanning van Covid-19, siektes, finansies en ander probleme aan,” het sy gesê.

“Kinders het soms die meeste hoop nodig. Hulle is die volwassenes van die toekoms en daarom moet ’n mens hulle verseker dat ’n goeie toekoms voorlê,” het Coetzee afgesluit.

Die Bome van Hoop-projek het tot dusver daarop gefokus om bewusmaking te kweek, maar die organiseerders hoop om dit ook in ’n liefdadigheidsprojek tot voordeel van die dorp te omskep.

Yssel het op haar beurt verduidelik haar doel met besoeke by skole is om leerders, hul ouers en die personeellede se hulp in te roep om BHP se drome ’n werklikheid te maak.

“Ons wil graag die projek inspan om mense in nood te help,” het sy gesê.

“Ons beplan byvoorbeeld om sopbestanddele in te samel en dié droë bestanddele aan behoeftige gesinne te skenk.”

Die BHP-span beoog om op Vrydag 27 Augustus ’n dag van hoop te hou waar almal in die dorp vir een dag deelneem aan prettige aktiwiteite, hul beste geel uitrustings aantrek en uitreik na ander.

Related Articles

Back to top button