BlogsOpinion

Hoofartikel: Om wolf-wolf te skree

“Het jy gehoor?” vra Skinder-Sarie weer Saterdag toe sy en haar vriendinne by hul gunstelingkoffiewinkel sit en klets.

Dit is juis aan dié koffietafel dat sy haar bynaam te danke het. Neus in die lug sit sy en kyk bysiende bo haar bifokale bril uit terwyl die een na die ander sappige skinderstorie uit haar mond vloei. Ons almal ken só iemand.

Of dit nou die oom is wat graag sy samesweringsteorieë om die braaivleisvuur deel, die ou wat in die kroeg spog oor die talle vroue wat al vir sy telefoonnommer gevra het of die vrou wat al te gretig is om ander se slaapkamergeheime met haar vriendinne te deel.

Maar moet tog nie té vinnig oordeel nie, want al steek jy nie so gereeld jou neus in ander se sake soos die buurman of buurvrou nie, het ons almal se tonge al iewers ’n halwe waarheid verkondig.

Almal ken die storie van die seuntjie wat een keer teveel “wolf” geskree het en uiteindelik het sy fopstories hom van die hele dorp vervreem — iets wat hom uiteindelik duur te staan gekom het.

Dink ’n bietjie aan die laaste keer dat jy die “deelknoppie” op die een of ander sosiale mediaplatform gedruk het sonder om werklik navorsing te doen.

Só het jy toe ook in die “Sarie-skinder-strik” getrap sonder dat jy dit noodwendig besef het. Ons leef in ’n era waar inligting vrylik beskikbaar is.

Wat ons doen met daardie inligting, is van kardinale belang.

Daar het juis vroeër vandeesweek ’n inentingsdebat of Facebook losgebars wat my weer laat besef het hoe maklik dit is om fopnuus te lees (en ook te versprei).

Kinders word sedert die vroegste tye deur middel van verskeie fabels geleer hoe om “speel-speel” meer verantwoordelike volwassenes te word.

Of dit nou die piepklein muisie is wat die magtige leeu se lewe moes red of die nare stiefma en haar twee dogters wat die aftog moes blaas nadat Aspoestertjie en die prins die knoop deurgehaak het.

Ons almal ken dié stories en die lesse wat daarmee saam kom, maar deesdae lyk dit asof al hoe meer mense maar sleg geluister het terwyl hul ma’s vir hulle uit die fabelboeke voorgelees het.

Ons moet, nou meer as ooit tevore, meer verantwoordelik wees met die inligting wat ons die wêreld instuur, want die verskil tussen lewe en dood lê soms so naby soos die druk van ’n knoppie.

Related Articles

Back to top button