CrimeNews

Gewapende rooftogte by twee Modi-vulstasies

Twee voorvalle van gewapende roof is in die vroeë oggendure van Saterdag 7 Augustus by vulstasies in die Modimolle-omgewing aangemeld.

Die eerste voorval het by Total Modimolle in Thabo Mbekistraat plaasgevind toe twee gewapende mans omstreeks 03:40 by die 24-uur-winkel ingestap het.

Volgens AO James Findlay, polisiewoordvoerder in Modimolle, is die twee werkers wat aan diens was beveel om op die vloer te lê.

Een werker is van sy selfoon en beursie met meer as R500 kontant in beroof. Die booswigte het daarna glo die kasregister se geldlaai gebuit en daarna op die vlug geslaan.

Kort daarna het booswigte glo ook by die Caltex-vulstasie in Nelson Mandelastraat met dieselfde modus operandi toegeslaan.

Volgens Findlay het die twee mans omstreeks 04:50 by die 24-uur-winkel ingestap waar een werker besig was om die daaglikse broodaflewering te ontvang. Die kasregister se geldlaai is ook in dié geval geneem.

Kringtelevisiekameras het gewys hoe die mans in ’n silwerkleurige Volkwagen Polo op die vlug slaan.

In albei voorvalle is geen skote afgevuur en niemand beseer nie. Die ondersoeke duur voort.

Related Articles

Back to top button