CrimeNews

Twee rooftogte kort ná mekaar

Misdadigers het in die afgelope week twee rooftogte in Bela-Bela uitgevoer.

Die Ackermans-klerewinkel is op Woensdag 4 Augustus deur rowers geteiken.

Die volgende dag het ’n afleweringsvoertuig op die R516-pad naby Settlers onder gewapende rowers deurgeloop.

Volgens kol. Abel Phetla, Bela-Bela-polisiestasiebevelvoerder, het twee verdagtes Ackermans betree en die personeel aangehou.

“Geen personeellede het ’n vuurwapen by die verdagtes gesien nie. Luidens die klagstaat is die personeellede aangesê om nie paniekerig te raak nie en aan die rowers se eise te voldoen.

Personeellede is daarna in ’n stoorkamer toegesluit waarna die rowers met ’n onbekende hoeveelheid selfone gevlug het.

Die rooftog het kort voor 10:00 afgespeel. Die afleweringsvoertuig is op Donder-dag 5 Augustus teen ongeveer 08:30 geteiken. Volgens Phetla het die afleweringsvoertuig voorraad by die Palm Plaza Caltex-vulstasie op die R516-pad afgelewer en was op pad terug toe twee verdagte voertuie opgemerk is.

“Mense in ’n minibus en ’n ander grys voertuig het die afleweringsvoertuig op die N1-afrit voorgekeer en die insittendes na ’n nabye grondpad gedwing waar hulle moes stilhou. Die twee personeellede van die aflewerings-voertuig is met vuurwapens gedreig om hul sigaret-voorraad te oorhandig.”

Die bestuurder van die aflewerings-voertuig en sy assistent is daarna ontvoer en in die Kwaggafontien-omgewing in Mpumalanga vrygelaat. Die rowers het hul uit die voete gemaak. Die ondersoeke in albei voorvalle duur voort.

Related Articles

Back to top button