Local newsNews

Slange deesdae bedags meer aktief

“Die warmer sonskynweer veroorsaak dat slange nou bedags meer aktief is,” waarsku Theunis Victor, slangvanger en -kenner van Modimolle.

Volgens Victor bly slange heeljaar aktief in die Waterberg en Bosveld-omgewing, want die matige winters verhoed dat hulle hiberneer.

Slange maak hul graag tuis in die son en begin nou ook weer jag maak op prooi, het hy gesê.

Victor het aan Die Pos vertel dat hy op Dinsdag 3 Augustus uitgeroep is om ’n kortsnoetgrasslang by ’n meenthuis in Modimolle te vang.

Hierdie kortsnoetgrasslang is op Dinsdag 3 Augustus by ’n meenthuis in Modimolle gevang. Slangkenners waarsku dat slange nou met die warmer weer bedags meer aktief is.

Volgens hom het die inwoners die slang van ongeveer 1 m lank tussen bourommel in hul tuin gewaar. Hulle kon nie die slang identifiseer nie en het liefs ’n opgeleide slangvanger gebel om dit te kom verwyder.

Die kortsnoetgrasslang maak bedags jag op muise, akkedisse, ander slange en selfs klein voëltjies. Hoewel hierdie slang as matig giftig beskou word, hou die gif geen gevaar vir mense in nie.

Dit is ’n skugter slang wat baie vinnig uit die oog verdwyn wanneer dit betrap word.

“Wanneer hierdie slang aan die stert gevang word, sal dit wriemelend in die rondte draai totdat die stert se punt afbreek — nes akkedisse, om sodoende te ontsnap, het Victor gesê. Inwoners word versoek om nie self te probeer om slange te vang nie, maar liefs die hulp van ’n opgeleide slangvanger in te roep.

Bel gerus vir Theunis Victor by tel. 082 823 6910 of vir LD Pienaar by tel. 072 475 6414.

Let daarop dat ’n minimale uitroepkoste gevra word wat aangewend word vir brandstofuitgawes.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button