MunicipalNews

Verkeerskantoor se deure is dig gesluit

Sake by die Bela-Bela-verkeersdepartement het ’n nuwe laagtepunt vir vuisvoos inwoners bereik.

Volgens ’n munisipale kennisgewing wat op Donderdag 5 Augustus uitgereik is, is die verkeerskantore se deure (weer) gesluit.

Luidens die verklaring ondervind die kantoor glo “tegniese probleme met hul stelsel”.

Die munisipaliteit het inwoners aangeraai om van alternatiewe diensverskaffers gebruik te maak soos om vir voertuiglisensieskyfies by die poskantoor aansoek te doen. Inwoners van Bela-Bela is behoorlik siek en sat vir verskonings hoekom dié kantoor maande reeds nie na behore funksioneer nie.

Die Pos berig al meer as ’n jaar oor die pro- bleme by dié kantoor.

Volgens inligting is die verskoning oor “tegniese probleme met die stelsel” egter nie die eintlike oorsaak van die jongste sluiting van die kantoor nie. Tinus Ras, DA-raadslid, het by navraag aan Die Pos gesê die munisipaliteit se agterstallige skuld aan die departement van vervoer beloop glo miljoene rande.

Die uitstaande skuld spruit glo uit fooie wat gehef word en nie oorbetaal is nie. Die opgehoopde skuld het volgens Ras daartoe gelei dat die departement die plaaslike verkeersafdeling se toegang tot die nasionale verkeersinligtingstelsel (Natis) voorlopig opgeskort het.

Weens die opskorting kan die verkeersafdeling nie bestuurslisensie-aansoeke, voertuig-lisensieskyfies, padwaardigheidsertifikate of die registrasie van voertuie afhandel nie, het Ras gesê.

Die enigste dienste wat glo wel gelewer kan word, is praktiese bestuurderslisensie-toetse.

“Sover ons verneem sal die munisipaliteit eers weer toegang tot die Natis-stelsel verkry, wanneer daar ’n bindende ooreenkoms aangegaan is om die agterstallige geld te vereffen.”

Die Augustus-spertyd om bestuurderslisensies wat tydens die begin van vanjaar se Covid-19-inperking verval het te hernu, is nou bykans verstryk.

Die munisipaliteit het in hul verklaring gesê hulle poog om dienste “spoedig” te herstel. Indien mense dringende lisensieaansoeke wil rig, word hulle aangeraai om die verkeersafdeling in Modimolle te besoek.

Ras het ten slotte gesê ’n vergadering is vandeesweek met amptenare belê om duidelikheid oor die situasie te verkry, asook om ’n haalbare oplossing tot voordeel van lisensieaansoekers te bespreek.

Hou Die Pos dop vir meer inligting hieroor.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button