NewsSchools

Kultuurfees kon weer plaasvind

Dit was met groot opgewondenheid dat Laerskool Eugène N. Marais in Mookgophong weer vanjaar hul gewilde Kultuurfees by die skool kon aanbied.

Die fees bestaan uit twee afdelings naamlik woord- en toonkuns en streng Covid-19-maatreëls word steeds gehandhaaf.

Woordkuns is op Maandag en Dinsdag 2 en 3 Augustus aangebied en die toonkuns op Woensdag 4 Augustus. Dit is die 26ste jaar dat die fees deur die skool aangebied word.

Sowat 230 deelnemers van die Waterberg-omgewing het met hul talente gespog. Volgens Clodina Smith, organiseerder, is oud en jonk vermaak deur die bekkigheid en verstommende talente van die leerders.

Hilda Kloppers, woordkunsbeoordelaar van Vanderbijlpark, het gesê die standaard was besonder hoog.

Bessie Buys, (toonkuns-organiseerder), Hanlie Jordaan, (beoordelaar van dié afdeling) en Daniël Buys wat die saal se versiering behartig het.

Die 150ste verjaarsdag van die digter, Eugène N. Marais, na wie die skool en fees vernoem is, is ook vanjaar gevier.

“Ons is werklik baie dankbaar dat die fees ná ’n jaar se afwesigheid weer aangebied kon word,” het Smith gesê.

Die deelnemende skole was Euphorbia Christelike Onafhanklike skool in Mookgophong, Laerskool Nylstroom, Hoërskool Nylstroom, Laerskool Eugène N. Marais en Laerskool Krugerpark van Mokopane. Bessie Buys, onderwyser van Laerskool Eugène N. Marais, behartig die toonkuns-afdeling en vanjaar was die tema sonneblomme en suurlemoene.

“Die helder geel het ons laat voel dat daar weer hoop is om saam musiek te maak en musiek te waardeer ná ’n jaar van inperking en stilte,” het Buys gesê.

Daniël Buys was verantwoordelik vir die kleurvolle versierings. Hanlie Jordaan, oorspronklik van Potchefstroom en deesdae ’n inwoner van Die Oog Aftree-landgoed buite die dorp, het die toonkuns beoordeel.

“Dit was ’n groot voorreg om vanjaar weer die Kultuurfees aan te bied en om weer vir leerders die geleentheid te gee om hul kultuurtalente ten toon te stel. Ons beplan ’n gala-aand waar die leerders hul talente aan ’n gehoor kan wys,” het Marina Gravett, skoolhoof, aan Die Pos gesê.

Related Articles

Back to top button