Local newsNews

Thabazimbi-jeug skep nuwe moed

Die landwye Bome van Hoop-projek (BVH) het ’n paar maande gelede ook in Thabazimbi afgeskop toe geel strikke om bome regoor die dorp gebind is.

Dié klein gebaar is ’n daaglikse herinnering dat daar altyd hoop is.

Thabang Children’s Project (TCP) is bekend in Thabazimbi as ’n organisasie wat met liefde en deernis die lewens van die dorp se jeug verbeter en die kinders en personeel van dié sentrum het juis daarom besluit om hulle deel te doen om hoop in die dorp te kweek.

Liza Yssel, een van die vrywilligers van die BVH-projek, en Yolanda Matthee, ’n inwoner, het op Vrydag 6 Augustus besoek afgelê by die kinder- en jeugsentrum waar hulle ’n boodskap van hoop met die sentrum se jong inwoners gedeel het.

“Bome van hoop is ’n projek wat ons almal leer om op ’n geringe manier vir ander te wys dat ons omgee,” het Yssel aan die kinders by TCP verduidelik.

“Elke keer as ons verby een van die geel strikke in die dorp ry of loop, word ons herinner aan soveel mense wat swaarkry,” het sy gesê.

Linda Grobler, maatskaplike werker by TCP, het aan Die Pos gesê sy en die kinders is baie opgewonde om deel te word van die projek.

“Ons het 32 kinders in ons sorg en baie van hulle kom uit moeilike omstandighede,” het sy vertel.

“Daarom is dit vir ons belangrik om ook betrokke te raak by hierdie projek om vir ons kinders te wys dat daar altyd hoop is en dat ’n mens nooit alleen deur swaar tye hoef te gaan nie.”

Vir Yssel is dit ook die rede hoekom die BVH-projek so belangrik vir die gemeenskap is.

“Kinders lê my nog altyd baie na aan die hart,” het sy verduidelik.

“Soms voel hulle alleen, bang en hopeloos en daarom het ons besluit om uit te reik na hulle en ’n positiewe boodskap te bring.”

Related Articles

Back to top button