CrimeNews

Ongebore baba op Northam-vullishoop gevind

Die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) in Northam ondersoek ’n saak nadat die oorskot van ’n baba op ’n vullishoop net buite die dorp ontdek is.

’n Saak van verberging van geboorte is geopen nadat die fetus op die Smashblock-stortingsterrein net buite Northam ontdek is.

Volgens inligting is die fetus deur ’n inwoner ontdek. Lede van die SAPD is na die terrein ontbied en hulle het ’n fetus sonder liggaamsdele aangetref.

Die fetus is na die Bela-Bela-forensiese patologie-afdeling gestuur waar voorlopige toetse aangedui het dat die ma se swangerskap op vyf maande beëindig is.

Kapt. Peter du Plessis van die SAPD het aan Die Pos-koerant verduidelik dat daar tans nog geen leidrade is om te volg nie. Hy het mense gevra wat oor meer inligting beskik om so gou as moontlik met die Northam-polisiestasie in verbinding te tree.

Die Pos het op ons voorblad van 4 Junie verslag gedoen oor ’n soortgelyke voorval toe die oorskot van ’n pasgebore baba op ’n ashoop gevind is.

Daleen Delport, ’n maatskaplike werker van die Suid-Afrikaanse Vrouefederasie (SAVF), het destyds haar skok uitgespreek daaroor dat al hoe meer sulke voorvalle plaasvind.

Delport het gesê sulke voorvalle is baie keer die resultaat van ’n tienerswangerskap of ’n desperate poging van ’n ma wat nie vir haar kind kan sorg nie.

“Dit hoef egter nie so te wees nie. Daar is deesdae soveel ander opsies dat weggooi nooit ’n uitweg moet wees nie,” het sy gemaan.

Volgens Delport word baie jong meisies, of selfs slagoffers van verkragting, gekonfronteer met die gedagte dat mense hulle sal veroordeel of verstoot of selfs sal vervolg.

Dit is dikwels ook hierdie desperate gevoel van verwerping wat jong meisies lei om die besluit te neem om van hul baba ontslae te raak.

Delport het gesê meisies moet van jongs af geleer word dat daar baie instansies en klinieke is waar hulle hul baba kan laat sonder die vrees vir oordeel of vervolging.

Op plaaslike bodem is daar organisasies soos Abba Adoptions, die SAVF en selfs verskeie klinieke wat gereed staan om vroue en kinders wat hulself in sulke omstandighede bevind, te help.

“Ons almal het ’n reg tot ’n veilige, gesonde en gelukkige lewe en ons het die verantwoordelikheid om dit ook vir ons kinders te bied,” het Delport gemaan.

  • Die SAPS doen ’n beroep op enigiemand met inligting oor die voorval om kapt. Peter du Plessis te bel tel. 082 565 7611 of dit anoniem aan te meld op die MySAPS-toepassing (App).

Related Articles

Back to top button