CrimeNews

Bejaarde se moordenaar lank agter tralies

Mmakwena Morris Maripa (53), die tuinier wat ’n bejaarde diereliefhebber van Modimolle sowat twee jaar gelede wreed vermoor het, is lewenslank tronk toe gestuur.

Die saak teen Maripa is vanaf Maandag 2 Augustus in die hooggeregshof in Polokwane aangehoor.

Hy is aangekla van roof en die grusame moord op die 73-jarige Trudie Grebe op 23 Augustus 2019 by haar woonhuis in Modimolle.

Volgens AO James Findlay, polisieverteenwoordiger in Modimolle, was Maripa sedert sy inhegtenisneming op 2 September 2019 in polisieaanhouding in Polokwane. Hy is kort ná die moord by sy suster se huis in Witpoort buite Lephalale aangekeer waar hy geskuil het.

Maripa het luidens hofstukke voor die moord tuinwerk vir Grebe en haar bejaarde eggenoot verrig. Grebe was ’n diereliefhebber wat etlike jare ’n troeteldierwinkel in die dorp bestuur en ’n hondesalon by haar huis bedryf het.

Sy was ’n geliefde inwoner en bekend vir haar aanvoeling met diere. Luidens die polisieverslag is ’n erg vernielde Grebe dood in haar tuin aangetref nadat sy met ’n mes en ’n groot klip aangeval is. Sy het erge beserings aan haar gesig en hande gehad.

’n Kliënt wat die betrokke oggend haar hond gebring het om geskeer te word, het onraad vermoed toe sy Grebe nie in die hande kon kry nie. Sy is saam met ’n vriend by die erf in om na Grebe te soek waar sy die ontstellende ontdekking gemaak het.

Die verswakte en bykans dowe Dolf Grebe (77) was tydens die aanval op sy vrou in die huis en het eers bewus geword van die gebeure nadat die bure en polisie opgedaag het.

Omstanders het vertel dat hy oor en oor gevra het: “Trudie, ag, waar is my ou Trudie?”

Hy woon sedertdien in die Waterberg Residentia-ouetehuis in Modimolle.

Maripa is op Dinsdag 3 Augustus tot lewenslange tronkstraf op die moordklag gevonnis. Hy is tot 15 jaar tronkstraf gevonnis op die aanklag van roof.

Die twee vonnisse sal gesamentlik uitgedien word.

Related Articles

Back to top button