MunicipalNews

AfriForum baie tevrede ná besoek aan munisipale stoor in Modimolle

Philip van Staden, AfriForum se voorsitter in Mookgophong, Francois Rossouw (sekretaris) het die Modimolle-Mookgophong-munisipaliteit se elektriese stoor in Modimolle besoek.

“Die doel van ons besoek op Donderdag 22 Julie was om te sien of die munisipaliteit voldoen aan die beslissings van die hofsaak tussen EMS/Lungani JV teen die Modimolle-Mookgophong-munisipaliteit,” het Van Staden aan Die Pos gesê.

In die hofsaak is onder meer bepaal dat die munisipaliteit maandeliks geld aan EMS/Lungani JV moet betaal waarmee toerusting en onderdele gekoop moet word vir die noodsaaklike herstel en opgradering van infrastruktuur.

Hierdie voorraad moet beskikbaar wees sodat daar minder kragonderbrekings voorkom. Die voorraad wat beskikbaar is, moet verseker dat dit ook nie te lank sal duur om kragonderbrekings te herstel nie.

“Ons was aangenaam verras met die hoeveelheid toerusting en onderdele wat in die stoor is en dus dadelik beskikbaar is vir die herstel en onderhoud van die elektriese stelsel in die Modimolle-Mookgophong-munisipale gebied,” het hy gesê.

Volgens Van Staden het die stoorbestuurder hulle vriendelik ontvang en gespog met die goedtoegeruste stoor. Hy het al die toerusting en onderdele aan hulle gewys en verduidelik hoe daar deesdae kontrole van voorraad gehou word.

Hy het verder verduidelik dat die stoor oor goedtoegeruste veiligheidstelsels beskik om die voorraad teen vandale en inbrekers te beskerm.

Van Staden het sy dank en waardering uitgespreek teenoor EMS/Lungani JV en ook teenoor die munisipaliteit vir die positiewe en weldeurdagte besluite wat ná die hofsbeslissing geneem is.

“Ons stoor in Mookgophong en die een in Vaalwater sal hopelik ook só toegerus word sodat kragonderbrekings ook in hierdie gebiede beperk kan word. Die stoor in Mookgophong is tans bykans leeg. Alle herstelwerk aan die infrastruktuur moet wag totdat die geskikte onderdele van Modimolle af ontvang is.

Dit is tydrowend en nie kostedoeltreffend om onderdele padlangs te vervoer nie,” het hy gesê.

  • Die hooggeregshof in Polokwane het op 1 Desember 2020 ’n interdik aan EMS/Lungani JV teen die Modimolle-Mookgophong-munisipaliteit toegestaan.

    Die interdik is gebring na aanleiding van ’n hofuitspraak in Maart 2020 tussen Eskom en die munisipaliteit oor agterstallige betalings.

    “Die uitspraak het bepaal dat 60% van die geld wat die munisipaliteit invorder, elke Vrydag aan Eskom oorbetaal word. Die ander 40% moet aangewend word vir kliëntediens en onderhoud op kraglyne. EMS Lungani JV is konsultante wat in Oktober 2019 deur die rekenkundige beampte van die betrokke munisipaliteit, dr. Melusi Shepard Mhlanga, aangestel is om die elektrisiteitsprobleme te ondersoek en reg te stel.

Related Articles

Back to top button