Local newsNews

Onderwysers mag kies oor entstof — al word dit aangeraai

Die spreekwoordelike kat is die afgelope week in die duiwehok losgelaat toe gerugte die ronde begin doen het dat onderwysers wat nie die Covid-19-inenting ontvang het nie, hul poste kwyt kan wees en selfs toegang tot skoolterreine geweier kan word.

Die departement van onderwys het op Woensdag 28 Julie ’n verklaring uitgereik wat lui dat die amptelike departementele kennisgewing, wat die week voordat onderwysers vir die derde kwartaal moes terugkeer na skole, slegs as riglyn gesien moet word.

Die departement het dit egter beklemtoom dat hulle onderwysers aanmoedig om vrywillig ingeënt te word. Die departement het gesê daar sal nie gediskrimineer word teen onderwysers wat nie die entstof wil kry nie omdat hulle meen dit is nadelig vir hul onderliggende mediese toestande of omdat hulle geloofs- of kulturele besware teen die toediening van entstof het nie. Indien onderwysers weens onderliggende siektetoestande nie hul pligte doeltreffend kan uitvoer nie, word bepaalde verlofklousules van die departement oorweeg en moet die korrekte aansoekprosesse gevolg word.

Onderwysers wat nie geldige redes kan verskaf waarom hulle nie vir werk opdaag nie, staar dissiplinêre prosesse en selfs afdanking in die gesig, lui die verklaring.

Meer as 500 000 onderwysers landwyd het volgens die departement reeds die entstof ontvang.

“Daar is omtrent 80% van ons onderwysers wat reeds ingeënt is. Ons is dankbaar dat ons personeel wat Covid-19 gehad het, volkome herstel het en vir die derde kwartaal aangemeld het,” het Liezel Grobler, waarnemende onderhoof van Laerskool Warmbad, by navraag aan Die Pos gesê.

“Sy het gesê daar is nog ’n paar personeellede wat onlangs Covid-19 gehad het en daarom nie nou dadelik die entstof mag ontvang nie.

“Ons moes ongelukkig in die eerste week van die nuwe kwartaal ’n hele klas laat isoleer nadat twee leerders positief getoets het,” het Grobler gesê.

“Ons probeer dit by ouers tuisbring dat enige sosiale byeenkoms ná skool ’n gevaar vir leerders inhou. Ouers moet besef dit is onaanvaarbaar om siek kinders skool toe te stuur. Ons tema vir die nuwe kwartaal is juis om vir ander om te gee. Ons wil graag ons leerders bewus maak dat hulle nie op hulself alleen moet fokus nie, maar vir hul medemens moet omgee.”

Chrisna van der Walt, hoof van Academia Private School in die dorp, het ook gesê die meerderheid van hul personeellede het reeds die entstof ontvang.

“Ons het ons personeellede en leerders met wetenskaplike feite oor die entstof ingelig en hulle kon daarom ingeligte besluite neem,” het sy gesê.

“Ons akademiese werk is goed op dreef en ons verwag dat die volgende Covid-19-golf vinniger sal afneem omdat ’n groter gedeelte van die bevolking dan ingeënt sal wees. Van ons junior leerders moes die eerste week van die kwartaal tuisbly om saam met hul ouers te isoleer. Dit is ’n wyse stap en tot voordeel van die skoolgemeenskap.”

  • Die aansoekproses vir 18-34-jariges vir die entstof is reeds vir registrasie oopgestel. Mense in hierdie ouderdomsgroep sal na verwagting vanaf Woensdag 1 September die entstof kan ontvang.

Related Articles

Back to top button