LettersOpinion

Brief: VF-Plus gekant teen uitstel van verkiesing

Die VF-Plus se standpunt is dat plaaslike regering in Suid-Afrika weens die ANC se swak dienslewering in so ’n haglike toestand is dat kiesers so gou as moontlik die geleentheid moet kry om verandering teweeg te bring.

Dr. Pieter Groenewald, Vryheidsfront-Plus (VF-Plus)–leier, skryf:

Die VF-Plus is gekant teen die uitstel van die munisipale verkiesing wat op Woensdag 27 Oktober vanjaar sou plaasvind.

Die verkiesingskommissie (OVK) maak moontlik ’n fout in sy aanname dat ’n volgende golf van die Covid-19-virus in daardie tydperk kan uitbreek.

In teenstelling met die OVK se siening hieroor, is daar ander geloofwaardige vooruitbeskouings wat toon dat die volgende golf nie rondom Oktober sal wees nie, maar teen middel Desember tot in Januarie aanstaande jaar sal wees.

Daar is geen sekerheid hieroor nie, maar indien die Desember/Januarie-beskouing wel akkuraat is, kan dit veel meer ongeleë wees indien die verkiesing vroeg in die nuwejaar plaasvind.

Wat die OVK se besluit betref, sien die VF-Plus rooi ligte flikker. Daar bestaan ’n grondwetlike bepaling oor verkiesings wat dit duidelik maak dat ’n volgende verkiesing nie later as 90 dae van die jaardatum van die vorige verkiesing gehou moet word nie.

Indien die grondwethof toelaat dat sekere bepalings van die grondwet nie uitgevoer word nie, kan situasies in die toekoms ontstaan waar ander verkiesings op nasionale- en provinsiale vlak ook om sekere redes uitgestel word. Dit kan ’n presedent skep.

Dit sou ’n ernstige verbreking van Art. 1 van die grondwet wees wat juis moet verseker dat die land se demokratiese bestel gehandhaaf en beskerm moet word en dat gereelde verkiesings die kern hiervan vorm.

Art. 1 kan slegs verander word met ’n meerderheidsbesluit van 75% in die parlement.

Politieke partye kan onder die huidige omstandighede steeds werwing doen deur ander metodes as direkte kontakbesoeke.

Die internasionale standpunt is ook dat verkiesings steeds vry en regverdig kan plaasvind al kan daar nie op die normale wyse werwing gedoen word nie.

Die VF-Plus se standpunt is dat plaaslike regering in Suid-Afrika weens die ANC se swak dienslewering in so ’n haglike toestand is dat kiesers so gou as moontlik die geleentheid moet kry om verandering teweeg te bring.

You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button