AdvertorialNews

Welsynswinkel open deure in Bela-Bela

Solidariteit Helpende Hand open op Vrydag 6 Augustus een van sy gewilde welsynswinkels, bekend as Ons Winkel in Bela-Bela.

Hulle sien daarna uit om met dié stap ook ’n verskil in dié gemeenskap te maak.

Heléne Schoeman is die eienaar van Ons Winkel Bela-Bela wat in die R101 Business Park in Potgieterweg, Bela-Bela, geleë is.

“Daar is soveel interessante en bekostigbare tweedehandse goedere, speelgoed, skatte en oudhede in die winkel. ’n Mens kan beslis weet alles wat jy daar koop, is ’n winskoop en die geld word weer vir ’n goeie doel aangewend. Daar sou niks gewees het om te koop indien iemand dit nie geskenk het nie. Juis daarom moedig ons inwoners aan om enigiets wat by hul huise in die pad staan of in onbruik is, vir ons te skenk. So raak ’n mens van oortollige huisware ontslae en weet dit word vir ’n goeie doel aangewend,” het sy gesê.

Enigiets kan by Ons Winkel afgegee word — van meubels, oudhede, kombuisware, beddegoed, gordyne, speelgoed, klere, skoene, sporttoerusting tot tegnologiese ware of enigiets anders wat in die pad staan.

Ons Winkel neem hierdie goedere en omskep dit in geld wat onder meer vir Helpende Hand se studiefonds aangewend word.

Die studiefonds bied rentevrye studielenings aan studente wat kwalifiseer om verder te gaan studeer, maar nie die nodige fondse het om dit te doen nie.

Die opbrengs word ook aangewend vir verskeie ander projekte van Helpende Hand wat poog om armoede in Afrikaanssprekende gemeenskappe te verlig en, waar moontlik, te voorkom.

Ons Winkel dien ook as werkskeppingsprojek vir die kontrakteurs wat die winkel bedryf en vir personeel wat in die winkels werk.

Vir meer inligting, bel vir Heléne Schoeman by tel. 082 891 9098 of stuur ’n e-pos na philip@helpendehand.co.za(.)

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button